Jeremy Bentham | |
Portret deur Henry William Pickersgill
| |
Gebore | Londen, Engeland | 15 Februarie 1748
---|---|
Oorlede | 6 Junie 1832 (op 84) Londen, Engeland |
Nasionaliteit | Verenigde Koninkryk |
Vakgebied | Politieke filosofie, regsfilosofie, etiek, ekonomie |
Alma mater | The Queen's College, Oxford (BA 1763; MA 1766) |
Bekend vir | Grootste geluk beginsel |
Beïnvloed deur | Protagoras, Epikurus, John Locke, David Hume, Charles Montesquieu, Claude Adrien Helvétius, Thomas Hobbes, Cesare Beccaria, Adam Smith, Joseph Butler |
Invloed op | John Stuart Mill, Henry Sidgwick, Michel Foucault, Peter Singer, John Austin, Robert Owen, H. L. A. Hart, Francis Y. Edgeworth |
Handtekening |
Jeremy Bentham (Londen, 15 Februarie 1748 – aldaar, 6 Junie 1832) was 'n Engelse juris, filosoof en sosiale hervormer. Hy was 'n vooraanstaande regsfilosoof en 'n vroeë pleitbesorger vir die utilitarisme. Hy het die ontwikkeling van die liberalisme sterk beïnvloed.
Bentham studeer regte aan die Universiteit van Oxford omdat hy aanvanklik 'n advokaat wou word. Hy skenk egter gou meer aandag aan die ontwikkeling van wysgerige teorieë van wetgewing en regspraak. Hy laat homself inspireer deur onder andere Joseph Priestley (‘die grootste geluk van die grootste aantal’).
Bentham was een van die invloedrykste utilitariste. Dit was te danke aan sy geskrifte, maar ook aan sy baie leerlinge oor die hele wêreld. Onder hulle was James Mill, sy sekretaris en diensknaap John Stuart Mill, en verskeide politieke leiers, onder wie Robert Owen, wat later die grondlegger sou word van die sosialisme in Engeland. Bentham word beskou as deel van die beweging van die filosofiese radikale wat 'n morele verandering in wetgewing en regspraak beoog.
Bentham was 'n pleitbesorger van individuele en ekonomiese vryheid, skeiding van kerk en staat, vryheid van meninguiting, gelyke regte vir vroue, diereregte en die afskaffing van slawerny en fisieke straf (ook vir kinders), die reg op egskeiding en vrye handel. Hy was vir belasting op erflatings, beperking van monopolieë, pensioene en 'n siektekosteversekering.