Jupiter het 95 mane met bevestigde wentelbane, soos in 2023.[1] Dit sluit nie 'n paar maantjies van omtrent 'n meter breed in wat vermoedelik deur die binnemane afgewerp word nie, en ook nie honderde onreëlmatige buitemane van omtrent 'n kilometer breed wat net vir kort rukke deur teleskope waargeneem is nie.[2]
Die grootstes van sy natuurlike satelliete, die vier mane van Galilei, is in 1610 deur Galileo Galilei ontdek en was die eerste voorwerpe wat gevind is wat om ’n liggaam wentel wat nie óf die Aarde óf die Son is nie. Sedert die einde van die 19de eeu is tientalle kleiner Jupiter-mane ontdek wat die name gekry het van minnaresse of dogters van die Romeinse god Jupiter of van sy Griekse eweknie, Zeus. Die mane van Galilei is verreweg die grootste voorwerpe wat om Jupiter wentel, met die oorblywende 91 mane en die ringe wat saam net 0,003 persent van die hele Jupiter-stelsel uitmaak.
Agt van Jupiter se mane is reëlmatige satelliete. Hulle wentel dus in dieselfde rigting as wat die planeet draai en het redelik sirkelvormige wentelbane. Die vier mane van Galilei is ellipsvormig omdat hulle planetêre massa het en sou dus as dwergplanete geklassifiseer gewees het as hulle direk om die son gedraai het. Die vier ander reëlmatige satelliete is baie kleiner en nader aan Jupiter; hulle is die bron van die ruimtestof wat Jupiter se ringe uitmaak.
Die res van Jupiter se mane is onreëlmatig. Hul wentelbane is verder van die planeet af en het groot hellingshoeke en wentelbaanafwykings. Hierdie mane is waarskynlik van ’n ander wentelbaan om die son aangetrek en in ’n baan om Jupiter gevange gehou. Daar is 16 onlangs ontdekte onreëlmatige satelliete wat nog nie name gekry het nie.