Die Kaapse Vlakte verwys na 'n sanderige gebied wat van die Kaapse Skiereiland na die binneland strek en die grootste gedeelte van die landengte tussen Tafelbaai en Valsbaai dek. Dit strek ongeveer tot teenaan Somerset-Wes. Die nasionale pad N2 loop deur die Kaapse Vlakte.
In betreklik onlangse geologiese tydperke is die Vlakte deur die see bedek. Daar was selfs 'n keer sprake om weer 'n kanaal te graaf van Valsbaai na Tafelbaai. In die vroeë jare was dit nouliks bevolk. Daarom was dit die aangewese plek om brandhout te versamel en beeste te laat wei. Ook het die inwoners van die stad daarlangs met hul waens na die binneland gery. Die gevolg was die algehele vernietiging van die natuurlike plantegroei. Dit het die suidoostewind (die Kaapse Dokter) in staat gestel om die los sand weg te waai. Tot in die middel van die 19de eeu is die paaie na die binneland gereeld deur die sand toegewaai. Die oplossing was om portjacksonbome (Acacia saligna) en rooikrans (Acacia cyclops) daar aan te plant. So is die sandduine suksesvol gestabiliseer, maar die akasias het buite beheer versprei.