Karel die Grote | |
---|---|
Rex Francorum (Koning van die Franke) Rex Longobardorum (Koning van die Lombarde) Imperator Romanorum (Keiser van die Romeine) | |
'n Portret van Karel die Grote deur Albrecht Dürer wat verskeie eeue na sy dood geskilder is.
| |
Regeer | 768–814 |
Gebore | 2 April 742; Luik |
Oorlede | 28 Januarie 814; Aken |
Kroning | Noyon, 9 Oktober 768 Pavia, 10 Julie 774 Rome, 25 Desember 800 |
Voorganger | Pepyn die Korte |
Opvolger | Lodewyk die Vrome |
Vader | Pepyn die Korte |
Moeder | Bertrada van Laon |
Begrawe | Katedraal van Aken |
Karel die Grote (Latyn: Carolus Magnus of Karolus Magnus, Duits: Karl der Große, Engels en Frans: Charlemagne) (742 of 747 – 28 Januarie 814) was die Koning van die Franke van 768 tot met sy dood in 814. Hy het Italië oorwin en die Yster Kroon van Lombardye in 774 aangeneem. Op 'n besoek aan Rome in 800 is hy deur Pous Leo III op Kersdag tot keiser gekroon waarmee die herlewing van die Romeinse ryk tradisie in die Weste ingelui is in die vorm van die Heilige Romeinse Ryk. Deur sy buitelandse oorwinnings en interne hervormings het Karel die Grote bygedra tot die herdefinisie van Wes-Europa en die Middeleeue. Sy heerskappy word ook geassosieer met die Karolingiese Renaissance, 'n herlewing van kuns en onderwys in die Weste.
Karel die Grote was die seun van Pepyn die Korte en sy vrou Bertrada van Laon. Sy oorspronklike naam in Oud-Frankies is nooit gedokumenteer nie, maar vroeë voorbeelde van sy naam in Latyn lees "Carolos" of "Karol's". Hy het sy vader opgevolg en saam met sy broer Karloman regeer tot laasgenoemde se dood in 771. Karel die Grote het sy vader se beleid teenoor die pousdom voortgesit en het die beskermer van die pousdom geword, die Longobarde se mag in Italië opgehef, en oorlog gevoer met die Sarasene, wat sy ryk uit Spanje lastig geval het. Tydens een van die veldtogte het hy een van die ergste nederlae van sy lewe by Roncesvalles deurgemaak (778). Hy het ook veldtogte teen die bevolkings oos van sy ryk gevoer, veral die Sakse, en hulle na 'n uitgerekte oorlog aan sy heerskappy onderwerp. Deur hulle na Christendom te bekeer het hy hulle in sy ryk geïntegreer en dus die weg gebaan vir die latere Ottoniaanse Dinastie.
Vandag word Karel die Grote as die vader van beide Frankryk en Duitsland gesien, en soms ook as die Vader van Europa. Hy was die eerste heerser van 'n Wes-Europese keiserryk sedert die val van die Romeinse Ryk.[1]