Die Karpatiese Gebergte (Pools, Slowaaks en Tsjeggies: Karpaty; Oekraïens: Карпати, Karpaty; Roemeens: Carpați; Hongaars: Kárpátok; Serwies: Карпати, Karpati) is 'n hooggebergte in Sentraal-, Oos- en Suidoos-Europa. Die Karpate word verdeel in die Beskide (met die Bieszczady), die Woudkarpate, die Oos-Karpate en die Suid-Karpate. Die gebergte is geleë in Hongarye, Oekraïne, Pole, Roemenië, Serwië, Slowakye en Tsjeggië. Die Karpate vorm 'n meer as 1300 km lange en 100–350 km wye boog, wat na die weste geopen is en naby Bratislava as voortsetting van die Alpe begin en weer in Noordwes-Serwië eindig. Die gebergte se hoogste deel vorm die Tatra met Gerlachovský štít (2 655 m) aan die grens tussen Pole en Slowakye, gevolg deur die Suid-Karpate met Moldoveanu (2 544 m) in Roemenië. In die Karpate ontspring riviere soos Dnister, Proet, Siret, Tisza en Vistula.