| |||||
Volkslied: Менің Қазақстаным (tr.: Meniñ Qazaqstanım) | |||||
Hoofstad | Astana | ||||
Grootste stad | Almati | ||||
Amptelike tale | Kasaks ("nasionaltaal") Russies ("amptelike taal") | ||||
Regering | Unitêre dominante-party presidensiële republiek Kasim-Zjomart Tokajef Oljas Bektenof | ||||
Onafhanklikheid • Kasakse Khanaat
• Alasj-outonomie • Kirgisiese ASSR • Kasakse ASSR • Kasakse SSR • Soewereiniteit verklaar • Republiek Kasakstan • Onafhanklikheid verklaar • Erken • Huidige grondwet |
1465 13 Desember 1917 26 Augustus 1920 19 Junie 1925 5 Desember 1936 25 Oktober 1990 10 Desember 1991 16 Desember 1991 26 Desember 1991 30 Augustus 1995 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
2 724 900 km2 (9de) 1 052 100 myl2 1,7 | ||||
Bevolking - 2023-skatting - Digtheid |
20 000 000[1] (62ste) 7 / km2 (236ste) 18,1 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
MOI (2021) | 0,811[3] (56ste) – baie hoog | ||||
Gini (2018) | 27,8[4] – laag | ||||
Geldeenheid | Tenge (₸) (KZT )
| ||||
Tydsone - Somertyd |
(UTC+5 en +6) nie toegepas nie (UTC+5 en +6) | ||||
Internet-TLD | .kz, .қаз | ||||
Skakelkode | +7-6xx, +7-7xx |
Kasakstan (Kasaks: Қазақстан, Kazakstan, [qɑzɑqˈstɑn], ; Russies: Казахстан, Kazachstan), amptelik die Republiek Kasakstan (Kasaks: Қазақстан Республикасы, Qazaqstan Respýblıkasy; Russies: Республика Казахстан, Respublika Kazakhstan), is ’n transkontinentale, maar landingeslote land in Sentraal-Asië, met ’n klein deel wes van die Oeral-rivier wat in Oos-Europa val.[5] Dit word in Afrikaans ook Kazakstan of Kazachstan gespel. Dit grens aan die Russiese Federasie, die Volksrepubliek China, Kirgisië, Oesbekistan, Turkmenistan en die Kaspiese See. Die hoofstad is Astana; tot in 1997 was dit Almati (voorheen Alma-Ata genoem).
Kasakstan is die wêreld se negende grootste staat en die grootste wat deur land omring is. Sy oppervlakte van 2 724 900 km² is groter as dié van Wes-Europa.[5][6] Die gebied sluit in vlaktes, steppe, taiga, canyons, heuwels, deltas, sneeubedekte bergpieke en woestyne. Sy bevolkingsdigtheid is minder as ses mense per vierkante kilometer.
Die gebied is histories bewoon deur nomadiese stamme. Dit het in die 13de eeu verander toe Djengis Khan die land beset het. Teen die 16de eeu het die Kasakke as ’n afsonderlike groep ontstaan. Die Russe het in die 18de eeu die Kasakse steppe begin beset en teen die middel van die 19de eeu was die hele Kasakstan deel van die Russiese Ryk. Ná die Russiese Rewolusie van 1917 en die daaropvolgende burgeroorlog is Kasakstan verskeie kere herorganiseer voordat dit in 1936 die Kazachstanse Sosialistiese Sowjetrepubliek geword het as deel van die Sowjetunie.
Kasakstan was die laaste van die voormalige Sowjetrepublieke wat hom onafhanklik verklaar het ná die verbrokkeling van die Sowjetunie in 1991; die huidige president, Kasim-Zjomart Tokajef, is sedert 2019 die land se leier. Vandat die land onafhanklik geword het, handhaaf dit ’n gebalanseerde buitelandse beleid en probeer dit sy ekonomie ontwikkel, veral sy koolwaterstofnywerheid.[7]
Die land is etnies en kultureel uiteenlopend, deels vanweë die gedwonge migrasie van ander volke na dié republiek tydens die bewind van Josef Stalin. Kasakstan het ’n bevolking van 16,6 miljoen wat uit 131 etnisiteite bestaan, onder andere Kasakke (sowat 63%[8]), Russe, Oekraïners, Duitsers, Tartare en Oeigoere.
Godsdiensvryheid bestaan in Kasakstan, maar die land het onlangs onder skoot gekom oor ’n gebrek daaraan. Robert George, voorsitter van die Amerikaanse kommissie vir internasionale godsdiensvryheid, het in 2013 gesê "die streng toepassing van hoogs beperkende wette wat twee jaar gelede aanvaar is, het Kasakstan se internasionale aansien skade berokken en daartoe gelei dat baie Kasakse burgers se godsdiensvryheid aangetas is".[9] Sowat 70% van die bevolking behoort tot die Islam en 26% is Christene.[10] Kasaks is die amptelike taal, terwyl Russies gelyke status het in staats- en administratiewe liggame.[5][11][12]