'n Kernoorlog of atoomoorlog is 'n oorlog waarin die strydende partye mekaar met kernwapens aanval. So 'n oorlog het nog nooit plaasgevind nie, maar die moontlikheid daarvan het 'n groot invloed op internasionale politiek. Omdat kernwapens so kragtig is, sal 'n kernoorlog tot grootskaalse en wêreldwye vernietiging lei.
Die eerste kernbomme is tydens die Tweede Wêreldoorlog ontwikkel en deur die Verenigde State van Amerika gebruik om Japan tot oorgawe te dwing. Twee bomme is hiervoor ingespan, een op Hirosjima en een op Nagasaki. Tot hede is dit die enigste kernwapens wat in oorlogstyd gebruik is. Die Verenigde State het eerste die tegnologie vir kernwapens ontwikkel, maar enkele jare later het die Sowjetunie ook kernwapens gehad.
Tydens die Koue Oorlog was die VSA en Sowjetunie in vyandighede teen mekaar gewikkel. Beide partye het oor talle kernwapens beskik, maar nie een van die partye het kernwapens direk teen die ander land, of teen die ander land se bondgenote, gebruik nie. Beide lande kon totaal deur die ander land se bomme vernietig word. As een party dit sou waag om kernwapens af te vuur, sou die ander party dieselfde kon doen. Hierdie situasie het as die "balans van terreur" of "wedersyds gewaarborgde vernietiging" bekend gestaan. As gevolg hiervan is die konflik mettertyd beëindig en het die twee supermoondhede 'n Derde Wêreldoorlog vermy.
Sedert die beëindiging van die kommunistiese bewind in Rusland en Oos-Europa het die spanning tussen Amerika en Rusland begin verlig en het oorlog minder waarskynlik begin raak. Vandag is die proliferasie van kernwapens die grootste bekommernis. Lande oor die wêreld wat reeds hulle eie kernbomme het is Brittanje, Frankryk, China, Israel, Indië, Pakistan en Noord-Korea. Soos nuwe tegnologie goedkoper word en makliker verkry kan word, word gevrees dat lande met onstabiele regerings hulle hande op kernwapens sal kan lê. Die moontlikheid bestaan ook dat terroriste in die toekoms kernwapens sal kan bekom of dit self sal kan bou.