Kleur is 'n ervaring wat (in mense) afkomstig is van die vermoë van die delikate struktuur van die oog om drie verskillend-gefilterde analises van 'n beeld te kan onderskei. Die ervaring van kleur word beïnvloed deur die langtermyngeskiedenis (opbrengs) van die kyker, asook korttermyneffekte soos nabygeleë kleure. Die term kleur word ook gebruik om 'n eienskap van voorwerpe of ligbronne te beskryf wat onderskei kan word in die reseptore van die oog.
Die kleur van 'n voorwerp kan objektief gemeet word deur die golflengte van die lig vanaf die voorbeeld te meet.
Ons sien voorwerpe in verskillende kleure vanweë die lig wat hulle na die oog terugkaats. Glas laat al die kleure deur, dus lyk dit vir ons kleurloos.
Sir Isaac Newton het gevind dat wit lig deur middel van 'n prisma opgebreek kan word in 'n rëenboog van kleure. In die kleurspektrum kon hy sewe hoofkleure onderskei: rooi, oranje, geel, groen, blou, indigo en violet. Kleur is 'n gewaarwording wat die mens ondervind wanneer lig op die retina van die oog val. Dit het dus te make met die vertolking wat die brein gee aan die Lig wat op die retina val. Die drie kleure rooi, groen en blou word afsonderlik deur die retina uit 'n ligbundel geregistreer en die impulse word dan deur die brein hersaamgestel en as 'n bepaalde kleur vertolk.
Om die rede word daar in kleurtegnieke (verf, kleurfotografie, kleurdruk, kleurtelevisie, ensovoorts) slegs van drie basiese kleure gebruik gemaak, waaruit alle ander kleure dan saamgestel kan word. Daar moet onderskei word tussen die kleur van 'n ligbron (byvoorbeeld die son, 'n vlam, 'n gloeidraad, ensovoorts) en die kleur van 'n nie-liggewende voorwerp. In laasgenoemde geval word die kleur van die voorwerp bepaal deur die samestelling van die gedeelte van die invallende lig wat deur die voorwerp weerkaats of deurgelaat word. Die samestelling word bepaal deur selektiewe absorpsie, breking, interferensie en fosforessensie, ensovoorts.