Koggelmander

Koggelmander
'n Koggelmander in die Lake Nakuru Nasionale Park, Kenia
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Filum:
Klas:
Orde:
Suborde:
Familie:
Subfamilie:
Genus:
Agama

(Daudin, 1802)

'n Koggelmander is 'n klein insekvretende reptiel met 'n lang stert wat oral oor Afrika voorkom.

Koggelmanders (familie Agamidae) is akkedisse met goed ontwikkelde pote en 'n lang stert. Daar is ongeveer 200 spesies wat by uiteenlopende omstandighede aangepas is. Tydens paring en wanneer hulle hul gebied afbaken, toon baie koggelmanders hul snel wisselende kleure, groot stekels en 'n opgeblase keel. Die familie kom in Afrika, Australië, Asië en Europa voor.

In Suid-Afrika word slegs een genus, Agama, met ongeveer 10 spesies aangetref, met die bloukopkoggelmander (Agama atra) en die boomkoggelmander (Agama atricollis) as dis bekendstes. Die koggelmander het sy Afrikaanse naam gekry omdat hy sy kop koggelagtig op en af beweeg, veral wanneer hy nuuskierig of senuweeagtig is. Die akkedisfamilie Agamidae, waartoe die koggelmander behoort, is nou verwant aan die van die likkewaan (Iguanidae).

Onderskeid tussen die 2 families kan op grond van hul gebit gemaak word. Hoewel beide families se spesies in soortgelyke omstandighede leef, kom hulle nêrens saam voor nie. Die koggelmander kom voor in Afrika, Asië, Australië en die gebied rondom die Middellandse See, terwyl die likkewane in die VSA, op Madagaskar en op 'n paar eilande in die Stille Oseaan aangetref word.

Daar kan aangeneem word dat likkewane vroeër oor die hele wêreld aangetref is, maar later deur die koggelmanders uit die Ou Wêreld verdring is. Koggelmanders was blykbaar beter aanpasbaar by die omstandighede wat geheers het. Koggelmanders het goed ontwikkelde pote en 'n lang stert wat nie regenereer, dit wil sê aangroei, as dit beskadig sou word nie. Die huid is bedek met skubbe wat dakpansgewys gerangskik is en is dikwels van skerp punte voorsien.

Sommige spesies het sterk ontwikkelde stekels op die rug of aan die keel. Die doel van die stekels is om ander mannetjies tydens paartyd af te skrik of om vreemdes uit hul gebied te verdryf. Die gebit bestaan uit skerp, spits tande en die meeste koggelmanders is insekte-eters, hoewel sommige plantetend (herbivoor) is. 'n Paar spesies het 'n gemengde dieet van insekte en plante.

Die meeste spesies het 'n bepaalde paarseisoen wat so bereken is dat daar vir die kleintjies genoeg kos beskikbaar sal wees wanneer hulle uitbroei. Boonop moet die wyfie tydens die ontwikkeling van die eiers oor voldoende voedsel beskik omdat die vorming van die dooiermateriaal baie voedingstowwe vereis. In die trope vind paring en die lê van eiersdaarom kort na die reënseisoen plaas.


Developed by StudentB