Die Koue Oorlog (Russies: холо́дная война́, cholodnaja woina, Engels: Cold War; 1947–1991) was ’n langdurige toestand van politieke konflik, militêre spanning en ekonomiese mededinging wat ná die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945) hoofsaaklik tussen die Sowjetunie en sy satellietstate aan die een kant en die Westerse wêreld, veral die Verenigde State, aan die ander kant ontstaan het. Hoewel die twee belangrikste magte amptelik nooit regstreeks gebots het nie, het die konflik gelei tot militêre bondgenootskappe, die strategiese ontplooiing van wapens, uitgebreide hulp aan swakker lande, spioenasie, propaganda, ’n wapenwedloop, mededinging op internasionale sportgeleenthede en tegnologiese mededinging soos die ruimtewedloop.
Hoewel hulle in die Tweede Wêreldoorlog bondgenote teen die Spilmoondhede was, het die USSR en VSA verskil oor politieke filosofie en die samestelling van die wêreld ná die oorlog terwyl hulle die grootste deel van Europa beset het. Die Sowjetunie het die Oosblok geskep met die Oos-Europese lande wat hy beset het, sommige as sosialistiese Sowjetrepublieke geannekseer en ander satellietstate gemaak het. Van die laasgenoemde lande is later gekonsolideer as die Warskouverdragslande (1955–1991). As teenvoeter vir kommunisme het die VSA en sy bondgenote verenigings soos Navo gestig.
Die VSA het die Marshall-plan in werking gestel om Europa te help om vinniger te herstel ná die oorlog, maar die Sowjetunie wou die meeste Oosbloklande nie toelaat om deel te neem nie. Elders, soos in Latyns-Amerika en Suidoos-Asië, het die USSR kommunistiese rewolusies aangevuur en gesteun, en hy is deur verskeie Westerse lande en hul bondgenote teengestaan. Sommige lande het hulle by Navo en die Warskouverdrag geskaar, en ander het lid geword van die Beweging van Onverbonde Lande.
Tydens die Koue Oorlog was daar tydperke van relatiewe kalmte en ander van groot internasionale spanning, soos met die Berlynse Blokkade (1948–1949), Korea-oorlog (1950–1953), Berlynse Krisis van 1961, Viëtnamoorlog (1959–1975), Kubaanse missielkrisis (1962), Sowjetoorlog in Afghanistan (1979–1989) en Navo se Able Archer 83-oefeninge in November 1983. Albei kante het hulle tot détente gewend om politieke spanning te verlig en daarmee regstreekse militêre aanvalle te verhoed.
In die 1980's, onder Ronald Reagan, het die VSA diplomatieke, militêre en ekonomiese druk op die USSR verhoog in ’n tyd toe die land reeds ekonomiese stagnasie onder Leonid Brezjnef beleef het. In die laat 1980's het die Sowjet-president Michail Gorbatsjof die bevrydende hervormings perestroika ("herbouing, herstrukturering", 1987) en glasnost ("openheid", c. 1985) ingestel. Die Koue Oorlog het geëindig ná die verbrokkeling van die Sowjetunie in 1991, waarna die VSA die dominante militêre mag was en Rusland die grootste deel van die Sowjet-kernarsenaal besit het. Die Koue Oorlog en die gebeure in dié tyd het ’n groot impak op die moderne wêreld gehad.