Deel van 'n reeks oor |
Kunsmatige intelligensie |
---|
Tegnologie
|
Woordelys
|
Kunsmatige intelligensie (KI) is die intelligensie waarmee masjiene of sagteware vorendag sou kom, in teenstelling met die intelligensie van mense of diere. Dit is 'n akademiese studieveld waarin probeer word om menslike intelligensie kunsmatig te skep. KI-navorsers en -handboeke definieer dit as "die studie en ontwerp van intelligente agente",[1] waar 'n intelligente agent 'n stelsel is wat sy omgewing waarneem en aksies neem wat sy kanse op sukses vergroot. Voorbeeldtake waarin dit gedoen word, sluit in spraakherkenning, rekenaarvisie, vertaling tussen (natuurlike) tale, asook ander kartering van insette.
KI-toepassings sluit in gevorderde websoekenjins (bv. Google-soekenjin), aanbevelingstelsels (gebruik deur YouTube, Amazon en Netflix), verstaan van menslike spraak (soos Siri en Alexa), selfrymotors (bv. Waymo), generatiewe of kreatiewe gereedskap (ChatGPT en KI-kuns), outomatiese besluitneming, en meeding op die hoogste vlak in strategiese spelstelsels (soos skaak en Go).[2]
John McCarthy, wat die term in 1955 geskep het, definieer dit as "die wetenskap van die skep van intelligente masjiene".[3] Meer in detail, definieer Andreas Kaplan en Michael Haenlein kunsmatige intelligensie as "die vermoë van 'n stelsel om eksterne data korrek te interpreteer, om uit hierdie data te leer en om hierdie lesse te gebruik om spesifieke doelstellings en take te bereik deur buigsame aanpassing."[4][5]
KI-navorsing is hoogs tegnies en gespesialiseerd, en is diep in onderafdelings verdeel, wat dikwels nie met mekaar kommunikeer nie.[6] In sommige gevalle kan die verdeeldheid aan sosiale en kulturele faktore toegeskryf word, soos werk wat by 'n bepaalde instelling of deur individuele navorsers gedoen word. KI-navorsing word ook deur verskeie tegniese kwessies geraak. Sekere subvelde fokus op die oplos van spesifieke probleme. Ander fokus weer op een van verskeie moontlike benaderings, of die gebruik van 'n bepaalde hulpmiddel, of ter vervulling van spesifieke toepassings.
Die sentrale probleme (of doelwitte) van KI-navorsing sluit in: redenasie, kennis, beplanning, leer, natuurliketaalverwerking (kommunikasie), persepsie en die vermoë om te beweeg en voorwerpe te manipuleer.[7] algemene kunsmatige intelligensie word as een van die veld se langtermyn doelwitte beskou.[8]
'n Redelik algemeen aanvaarde toets vir kunsmatige intelligensie is die turingtoets, geformuleer deur die Engelse wiskundige Alan Turing, een van die vaders van rekenaarwetenskap. Dit kom daarop neer dat as 'n rekenaar iemand kan mislei en laat glo dat hy 'n mens is, die rekenaar intelligent moet wees.
Tegnieke soos neurale netwerke en genetiese algoritmes toon dat die KI ook inspirasie put uit die biologie. Baie takke van wetenskap hou verband met die KI. Kunsmatige intelligensie kan dus ook gesien word as 'n brug tussen verskillende dissiplines.