Nota: Hierdie bladsy kan IFA fonetiese simbole in Unicode bevat.
Die term Letgallies kan na twee verskillende tale verwys:
Die taal van die Letgalle in 'n deel van die huidige Letland. Letgallies het aan die oostelike groep van die Baltiese tale binne die Indo-Europese tale behoort. Histories het Lets ontwikkel uit Letgallies met invloede van ander tale, onder wie Koers en Semigallies.
Deesdae word veral na die Letgalliese taal (latgalīšu volūda) verwys wat in Oos-Letland gepraat word; dit word soms as 'n outochtone taal van Letland beskou en soms as 'n dialek van Lets. Die moderne Letgallies het ontstaan as gevolg van die politieke afsondering van Letgallen van die res van Letland oor eeue heen. Dit word veral in Oos-Letland in die historiese streek Letgallen langs die grens met Rusland en oorkant die grens deur sowat 200 000 mense gepraat. Volgens die Letlandse grondwet geniet dit wettige status in dié land.[2]