Logos (Grieks: λόγος, logos) is 'n belangrike vakterm in filosofie, psigologie, retoriek en religie. Aanvanklik is die woord verstaan as "'n rede", "'n versoek", "'n mening", "'n verwagting", "woord", "spraak", "verslag", of "redenasie",[1][2] maar is ingevoer as 'n tegniese term in filosofie, beginnend by Herakleitos (ca. 535–475 v.C.), wat dit aangewend het vir 'n beginsel rakende orde en kennis.[3]
Antieke filosowe het die term op verskillende wyses aangewend. Die sofiste het dit gebruik in die opsig van 'n "vertoog", en Aristoteles het dit voorbehou vir 'n "beredeneerde vertoog"[4] of "die argument" in die vakgebied van retoriek.[5] Die |stoïsynse filosowe het die term met die goddelike in verband gebring, 'n besielende beginsel wat die universum sou onderlê.
Nadat Judaïsme onder Hellenistiese invloed gekom het, het Philo (ca. 20 v.C.–40 n.C.) die term in Joodse filosofie opgeneem.[6] Die Evangelie van Johannes identifiseer die Logos, waardeur alle dinge tot stand gekom het, as goddelik (theos),[7] en sonder Jesus uit as die inkarnasie van die Logos.
Alhoewel die term "Logos" wye aanhang het in hierdie Christelike opsig, dui dit in akademiese kringe dikwels op die verskillende antieke Griekse toepassings daarvan, of op post-Christelike gebruike binne kontemporêre filosofie, Soefisme, en die analitiese psigologie van Carl Jung.