Selfs in die oertyd het mense ontdek dat magnetietkristalle mekaar aantrek of afstoot afhangende van hul oriēntasie. Die natuurkundige verskynsel word magnetisme genoem. Die woord magnetisme vind sy oorsprong dan ook uit Magnetiet wat op sy beurt afkomstig is van Magnesia, 'n gebied in Thessalië in antieke Griekeland (Tans Manisa, Turkye), waar neerslae van die mineraal gevind is.
Die element wat verantwoordelik is vir die magnetisme van magnetiet is yster. Baie ysterlegerings vertoon magnetiese eienskappe. Naas yster vertoon nikkel en kobalt ook magnetiese eienskappe.
Voorwerpe wat sterk magnetiese eienskappe vertoon word dan ook magnete genoem. Daar bestaan natuurlike en kunsmatige magnete (AlNiCo, Fernico, Ferriete ens.). Alle magnete het twee pole wat onderskeidelik die noordpool en suidpool genoem word. Die noordpool van 'n magneet stoot die noordpool van 'n ander magneet af en trek die suidpool van 'n ander magneet aan. Twee suidpole stoot mekaar ook af. Omdat die aarde ook oor 'n magneetveld beskik met 'n suid- en 'n noordpool (magnetiese suidpool naby die noordpool en die suidpool naby die aarde se noordpool), sal 'n vrydraaiende kompas altyd 'n noord-suidrigting aanneem. Die benaming van die pole van 'n magneet is hieruit afgelei. Daar word vir gemak, alhoewel dit uiters verwarrend kan wees, na die "aardmagneet" se suidpool as die magnetiese noordpool verwys en die noordpool van die aarde se magneet is dan die "aardmagneet" se magnetiese suidpool.
'n Verwante verskynsel is elektromagnetisme, magnetisme wat ontstaan as gevolg van 'n elektriese stroom.