Magnitude beteken letterlik grootte of omvang. In sterrekunde word dit gebruik om aan te dui hoe helder ’n ster is. Dit is belangrik om te onthou dat hoe hoër die magnitude, hoe dowwer die ster is. 'n Ster van magnitude 1 is bv. 100 keer so helder as een van magnitude 6, en besonder helder sterre het selfs ’n negatiewe waarde.
Die (skynbare) helderheid van sterre is in die antieke tyd in getalle aangegee: die helderste sterre het ’n waarde van 1 gekry en die dofste sterre ’n waarde van 6. Later is onderskei tussen die skynbare magnitude (m) van ’n hemelliggaam en die absolute magnitude (M) – laasgenoemde is die helderheid van hemelliggame indien hulle van dieselfde afstand (10 parsek) van die aarde af gesien sou word. Albei waardes is vir lig wat by sigbare golflengtes uitgestraal word.
Die stelsel is ook verfyn sodat die presiese magnitude van ’n ster gemeet kan word. Sterrekundiges kan nou verskille meet van tot ’n honderdste van ’n magnitude. Ons son het byvoorbeeld 'n skynbare magnitude van −26.74, Sirius -1,46, Arcturus -0,04, Aldebaran +0,85, Spica +1,04 en Procyon +0,34. Onder die antieke stelsel sou die laaste vyf almal ’n waarde van 1 kon gehad het. Daarteenoor is die absolute magnitude van Sirius +1.4, en die van ons son +4.8.
Sterre met magnitudes van tussen 1,5 en 2,5 word tweedemagnitude-sterre genoem en die sowat 20 sterre met ’n skynbare magnitude helderder as 1,5 staan bekend as eerstemagnitude-sterre.
Bolometriese magnitude neem die energie in ag wat in alle golflengtes uitgestraal word, dit wil sê oor die hele elektromagnetiese spektrum.
Sigbaar vir tipiese menseoog |
Skynbare magnitude |
Helderheid relatief tot Vega |
Getal sterre helderder as skynbare magnitude[2] |
---|---|---|---|
Ja | −1.0 | 250% | 1 |
0.0 | 100% | 4 | |
1.0 | 40% | 15 | |
2.0 | 16% | 48 | |
3.0 | 6.3% | 171 | |
4.0 | 2.5% | 513 | |
5.0 | 1.0% | 1 602 | |
6.0 | 0.40% | 4 800 | |
6.5 | 0.25% | 9 096[3] | |
Nee | 7.0 | 0.16% | 14 000 |
8.0 | 0.063% | 42 000 | |
9.0 | 0.025% | 121 000 | |
10.0 | 0.010% | 340 000 |