Mak maak (vgl. die Latynse woord domesticus: "van die huis") is die teel, kweek of tem van 'n bevolking van organismes om die eienskappe wat wenslik is vir die teler, kweker of temmer te beklemtoon. Die verlangde eienskappe kan insluit 'n bepaalde fisiese voorkoms, gedragskenmerke, indiwiduele grootte, werpselgrootte, hare/pelsgehalte of -kleur, groeikoers, vrugbaarheid, leeftyd, die vermoë om marginale hulpbronne en weiding te gebruik, die produksie van sekere neweprodukte, en vele ander.[1] Mak organismes mag afhanklik word van mense of menslike aktiwiteite, omdat hulle hul vermoë om in die natuur te oorleef kan verloor.
Mak maak verskil van temming in dat dit nie net verwys na 'n organisme se verandering in gedrag of omgewingssosialisering nie, maar potensieel selfs ook in hul fenotipiese uitdrukking en genotipes. Die woord mak word algemeen gebruik om 'n verandering in die hele bevolking te beteken, terwyl tem meer algemeen gebruik word om 'n verandering in individue te beteken. Verder is tem tipies slegs van toepassing op diere en hul gewoond raak aan menslike teenwoordigheid, terwyl mak maak 'n breër term behels, en kan plante, swamme en ander vorme van organismes insluit.
Plante word hoofsaaklik mak gemaak vir hul estetiese genot in en om die huis, en word sierplante genoem, terwyl dié wat mak gemaak word vir grootskaalse voedselproduksie gewasse (of kultivars) genoem word. Daar kan verder 'n onderskeid getref word tussen die mak plante wat doelbewus verander is vir spesiale gewenste eienskappe, en die plante wat gebruik word tot menslike voordeel, maar wat in wese geen verskil toon tussen die mak en wilde bevolkings van 'n spesie nie. Diere wat vir die mens se kameraadskap mak gemaak is, word troeteldiere genoem, terwyl dié soorte wat mak gemaak is vir voedselproduksie of arbeid, vee of plaasdiere genoem word.