Malgasse | |
---|---|
'n Malgassiese gesin in Madagaskar | |
Totale bevolking: | ca. 25 miljoen |
Belangrike bevolkings in: | Madagaskar ~25 miljoen[1] Frankryk: 65 000[2] |
Taal: | Malgassies; Frans[1] |
Geloofsoortuiging: | Animisme (52%), Christendom (41%), Islam (7%)[1] |
Verwante etniese groepe: | Austronesiese volke • Bantoevolke |
Die Malgasse (Malgassies: Foko malagasy; Frans: Malgache) is 'n Austronesiese en Suider-Afrikaanse etniese groep inheems aan die eilandnasie Madagaskar. Hulle word onderdeel in twee subgroepe: die "Hoogland" Merina, Sihanaka en Betsileo van die sentrale hoogland rondom Antananarivo, Alaotra (Ambatondrazaka) en Fianarantsoa, asook die "kusbewoners" elders in die land. Hierdie verdeling het sy oorsprong in historiese vestigingspatrone. Die oorspronklike Austronesiese setlaars uit Borneo het tussen die derde en tiende eeue Madagaskar bereik en 'n netwerk van prinsdomme in die sentrale hooglandstreek, wat geskik is vir die verbou van rys wat hulle saamgeneem het, begin oprig. 'n Rukkie later het 'n groot aantal setlaars uit Oos-Afrika aangekom en koninkryke langs die betreklik onbevolkte kuslyn gestig. Die Bantoevolke het met die Austronesiese volke vermeng en sodoende die Malgassiese bevolking van Madagaskar gevorm. Saam met die Kaapse Maleiers van Suid-Afrika vorm die Malgasse die enigste inheemse Austronesiese volk in Afrika.
Die verskil in etniese oorsprong bly ietwat duideliker tussen die hoogland- en kusstreke. Bykomende tot die etniese onderskeiding tussen die hooglande en Madagaskar se bevolking langs die kus, kan dit ook 'n politieke verskil beteken. Die Merina-monarge van die laat 18de en vroeë 19de eeu het die Merina-prinsdomme verenig en die naburige Betsileo as eerste volk onder hul gesag gebring. Hulle het later hul invloed oor die grootste deel van die kusgebiede uitgebrei. Die militêre verset en die uiteindelike nederlaag van die meeste kusgemeenskappe het hul ondergeskikte posisie teenoor die Merina-Betsileo-alliansie verseker. Tydens die 19de en 20ste eeue het die Franse koloniale gesag van hierdie politieke ongelykhede gebruik gemaak en die bestaande Merina-regeringsinfrastruktuur op hul kolonie toegepas. Hierdie nalatenskap van politieke ongelykheid het die inwoners van Madagaskar getref nadat hulle in 1960 hul onafhanklikheid verkry het; kandidate se etniese en streeksidentiteite het hul sukses in demokratiese verkiesings óf vergemaklik óf belemmer.
Binne hierdie twee breë etniese en politieke groeperings is die Malgasse histories in spesifiek benoemde etniese groepe onderdeel; van hulle is veral op die grondslag van kulturele tradisies van mekaar onderskei. Dié onderskeidinge is op grond van landbou-, jag- en visvangpraktyke; argitektuur; musiek; hare- en kleredrag; en plaaslike gebruike of taboes getref, laasgenoemde is in Malgassies bekend as fady.[verwysing benodig] Die presiese aantal etniese groepe in Madagaskar is as gevolg van hierdie onderskeidinge onduidelik. Die praktyke waardeur baie van hierdie etniese groepe onderskei is, is in die 21ste eeu minder algemeen as dit in die verlede was. Die meeste Malgasse is egter trots op hul verbintenis met een of meer van hierdie groepe en beskou dit as deel van hul eie kulturele identiteit. Die Malgasse is bekend vir hul begrafnisritueel, Famadihana.