Manteldiere | |
---|---|
Cystodytes lobatus | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Superkoninkryk: | |
Koninkryk: | |
Subkoninkryk: | |
Superfilum: | |
Filum: | Bateson, 1885
|
Subfilum: | Tunicata
|
Die manteldiere (Tunicata[1]) is 'n subfilum van die rugstringdiere (Chordata).
Hierdie diere leef in vlak seewater en word gekenmerk deur 'n gedaantewisseling van 'n vryswemmende vorm, wat baie soos die lansetvissies lyk na 'n volwasse vorm wat meestal sessiel is, permanent vasgeheg op 'n klip of ander ondergrond.[2] Die Larvacea is 'n uitsondering. Hulle bly vryswemmend.
Manteldiere behoort tot die subphylum Urochordata (vroeër ook bekend as Tunicata). Hulle is uniek in die phylum Chordata omdat die volwasse manteldiere baie min eienskappe toon wat hulle as chordate kenmerk. Alle manteldiere - daar is ongeveer 2 100 spesies bekend – is seediertjies.
Sommige is sessiel (vassittend), terwyl ander vryelik in die water ronddryf (byvoorbeeld Appendicularia en salpe). Manteldiere kan solitêr of koloniaal leef en somtyds word 'n groot aantal individue onder 'n gemeenskaplike bedekking saamgegroepeer gevind. Die diertjies se liggame is sak- of balievormig, maar ondanks hierdie eenvoudige liggaamstruktuur word die Urochordata tog as naverwant aan die Vertebrata (werweldiere) beskou, aangesien die larwes ʼn dorsale senuweekoord (chorda dorsalis) het. Die diertjies wissel in grootte van amper mikroskopies klein tot ongeveer 30 cm in deursnee.
Feitlik alle Urochordata is hermafrodities ('n enkele individu besit manlike sowel as vroulike geslagsorgane), maar die voortplantingswyses varieer. Sommige plant geslaglelik voort, terwyl ander deur middel van knopvorming ongeslagtelik voortplant. Die groep se naam verwys na die mantel of sakagtige bedekking oor die liggaam wat deur die diertjie afgeskei word.
Manteldiere leef van mikroplankton wat hulle filtreer uit water wat hulle insuig. Manteldiere (subphylum Urochordata, vroeër Tunicata) behoort saam met die lansetvisse (subphylum Acrania) en die werweldiere (subphylum Vertebrata) tot die phylum Chordata. Feitlik al die manteldiere besit tydens hulle larvale stadium 'n chorda dorsalis (vrugrugmurg, voorlopervan die rugstring) en 'n dorsaal geleë, longitudinale skeletstruktuur.
Bogenoemde is waar van die sakpype (klas Ascidiacea) en sommige spesies wat tot die orde Doliolida behoort. Sy die mantelvissies (klas Appendicularia) is die chorda dorsalis tydens die hele leeftyd aanwesig, terwyl dit heeltemal afwesig is by die salpe (orde Salpida) en by die spesies wat tot die orde Pyrosomatidae behoort. Die verwantskap tussen hierdie organismes en die vertebrate (werweldiere) is nie waarneembaar ten opsigte van hul uitwendige bou nie.
Die meeste Urochordata is sak- of balievormig. Die liggaam word omvou deur 'n mantel (tunika) wat opgebou is uit tunisien, wat somtyds dierlike sellulose genoem word. Die diertjie se liggaam bestaan grotendeels uit 'n enkele brangiale (kieu-) holte, wat homoloog (vergelykbaar) is met die dermkanaal van vertebrate. Sinne hierdie holte is die kieusak geleë, waarvan die voorste gedeelte soos 'n sif funksioneer as gevolg van 'n groot aantal splete wat daarin aangetref word.
Water word deur die werking van ʼn groot aantal silia (borselhaartjies) deur die kieusplete geforseer. Die kieusak is vir die opname van voedsel en suurstof uit die seewater verantwoordelik. Die kloakale holte, waarin die kloaak uitmond, lê rondom die brangiale holte. Die ware dermkanaal bestaan hoofsaaklik uit ʼn eenvoudige lus. Aan die onderkant van die dier se liggaam word ʼn endostiel aangetref wat 'n taai slym produseer waaraan voedseldeeltjies uit die water vaskleef.
Die bloedvatstelsel, sintuie en senuweestelsel is besonder eenvoudig van bou. Daar is ongeveer 2 100 spesies manteldiere, wat almal seediertjies is. Die sakpype lewe sessiel (vassittend), terwyl mantelvissies en salpe planktonies (vryswemmend) voorkom. Alle manteldiere is tweeslagtig (hermafrodities), maar selfbevrugting is hoogs uitsonderlik, aangesien die sperms voor die eiersel ryp word.
Urochordata groei en leef graag op ondergedompelde mensgemaakte strukture en waar hulle onderkant die waterlyn op die rompe van skepe voorkom, kan hulle die boot se vaart deur die water aansienlik vertraag. Manteldiertjies is feitlik reg oor die oseane en seë van die wêreld versprei en kom voor van die tussengetysone tot in die diepste dele van die oseane. Die sessiele vorm, soos sakpypies (klas Ascidiacea), is sakvormige diertjies wat alleen, in groepe of vergroeid in kolonies op die seebodem en kontinentale banke van alle seë en oseane lewe. Hulle groei ook op of onder rotse, op seebamboes, op sandbanke onder die wateroppervlak, op koraalriwwe en op ondersese kabels en pale waarop kaaie gebou is, asook op skulpe en doppe van molluske en krewe.