Maria Gertrude Goeppert-Mayer | |
Gebore | Kattowitz, Pruise (nou Katowice, Pole) | 28 Junie 1906
---|---|
Oorlede | 20 Februarie 1972 (op 65) San Diego,Kalifornië |
Burgerskap | Duits Amerikaans |
Vakgebied | Fisika |
Instelling(s) | Sarah Lawrence-kollege Columbia-universiteit Los Alamos-labratorium Argonne Nasionale laboratorium Universiteit van Kalifornië, San Diego Universiteit van Chicago |
Alma mater | Universiteit van Göttingen |
Doktorale student(e) | Robert G. Sachs |
Bekend vir | Kernskilmodel |
Toekennings | Nobelprys vir fisika |
Maria Gertrude Goeppert-Mayer (of Göppert-Mayer) (28 Junie 1906 – 20 Februarie 1972) was 'n Duits-gebore Amerikaanse teoretiese fisikus wat die kernskilmodel van die atoomkern voorgestel het en waarvoor sy die Nobelprys vir fisika ontvang het. Sy was die tweede vrou wat 'n Nobelprys vir fisika gewen het, die eerste was Marie Curie. In 1986 is die Maria Goeppert-Mayer-toekenning vir vroulike fisici in hul vroeë loopbaan tot haar eer gestig.
'n Gegradueerde aan die Universiteit van Göttingen, het Goeppert-Mayer haar doktorale proefskrif geskryf oor die teorie van die moontlike twee-fotonabsorpsie deur atome. Destyds het dit gelyk asof daar min kans was om haar proefskrif eksperimenteel te verifieer, maar die ontwikkeling van die laser het dit moontlik gemaak. Die eenheid vir die twee-foton absorpsie-deursnit word vandag die Goeppert Mayer-eenheid genoem.
Maria Goeppert het met Joseph Edward Mayer, 'n chemikus, getrou en na die Verenigde State verhuis, waar hy medeprofessor aan die Johns Hopkins-universiteit was. Streng reëls teen nepotisme het die Johns Hopkins-universiteit verhinder om haar as fakulteitslid aan te neem, maar sy het werk as assistent gekry en het in 1935 'n belangrike artikel gepubliseer oor dubbele betaverval. In 1937 het sy na die Universiteit van Columbia verhuis waar sy 'n onbetaalde pos opgeneem het. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het sy aan die skeiding van isotope as deel van die Manhattan-projek in Columbia gewerk en saam met Edward Teller by die Los Alamos-laboratorium aan die ontwikkeling van Teller se "Superbom" gewerk.
Na die oorlog het Goeppert-Mayer 'n vrywillige medeprofessor in Fisika aan die Universiteit van Chicago geword (waar haar man en Teller gewerk het) en 'n senior fisikus aan die universiteitsbestuurde Argonne Nasionale laboratorium. Sy het 'n wiskundige model vir die struktuur van kernskille ontwikkel, waarvoor die Nobelprys vir fisika aan haar toegeken is in 1963. Sy het dit met J. Hans D. Jensen en Eugene Wigner gedeel. In 1960 was sy aangestel as volle professor in fisika aan die Universiteit van Kalifornië in San Diego.