Masai | |
---|---|
’n Masai-dans, Kenia. | |
Totale bevolking: | Sowat 1,64 miljoen |
Belangrike bevolkings in: | Kenia Tanzanië |
Taal: | Masai (ɔl Maa) |
Geloofsoortuiging: | Masai-mitologie, Christendom |
Verwante etniese groepe: | Ander Nilo-Sahariese volke soos Dinka, Kanuri, Luo en Nuer |
Die Masai is ’n Nilotiese etniese groep wat in Suid-Kenia en Noord-Tanzanië voorkom. Hulle is van die bekendste plaaslike bevolkings omdat hulle naby die Groot Mere van Afrika woon, asook danksy hul besonderse gebruike en kleredrag.[1] Hulle praat Masai (ɔl Maa),[1] ’n lid van die Nilo-Sahariese taalfamilie. Hulle kry ook onderrig in die amptelike tale van Kenia en Tanzanië, Swahili en Engels. Die bevolking in Kenia was in die 2009-sensus sowat 841 622,[2] in vergelyking met 377 089 in die 1989-sensus.[3]
Die Tanzaniese en die Keniaanse regering het programme ingestel om die Masai se tradisoneel semi-nomadiese leefstyl te ontmoedig, maar die groep verkies hul eeue oue gebruike.[4] Die wêreldwye welsynorganisasie Oxfam het onlangs beweer die Masai se leefstyl moet aangemoedig word as ’n antwoord op klimaatsverandering vanweë hul vermoë om kos in woestyne en struikvelde te vervaardig.[5] Baie Masai-stamme verwelkom besoekers aan hul dorpies sodat hulle hul kultuur, gebruike en leefstyl kan ervaar.[6]