Maximilien Robespierre (6 Mei 1758 - 28 Julie 1794) is in Arras, Frankryk, waar sy pa 'n prokureur was, gebore. Net soos sy pa en sy oupa het Robespierre 'n regsgeleerde geword en gou bekendheid verwerf vir sy dienste aan die armes wat nie 'n regsgeleerde kon bekostig nie. Robespierre het van vroeg af reeds in die politiek belang gestel en het hartstogtelik in die beginsels van die Franse filosoof Jean Jacques Rousseau geglo. Hy was oortuig daarvan dat Rousseau se geskrifte die antwoord op die probleme van die wêreld bevat het. Die geskrifte het getoon hoe die mens eens gelukkig en vry was, maar hoe sommige mense mettertyd niks meer as slawe vir andere geword het nie. Robespierre se belangstelling in die politiek het gaandeweg toegeneem, en in 1789, kort voor die uitbreek van die Rewolusie, is hy tot die Franse parlement, die State-Generaal, verkies.
Robespierre se karakter was in baie opsigte 'n geslote boek. Te oordeel aan sy dade moes hy 'n wrede, genadelose tiran gewees het, maar sy karakter het ook 'n ander sy gehad. Hy was 'n man van stiptelike eerlikheid, wat nooit die mag wat hy oor beskik het gebruik het om homself te verryk nie. By baie mense van daardie tyd was hy bekend as “die onomkoopbare". In werklikheid was hy stil, skugter en hoflik. Hy was baie gesteld op sy kleredrag en het baie tyd aan die versorging van sy hare bestee.
Aangesien hy klein van postuur was, het hy die gewoonte gehad om skoene met hoë hakke te dra. Robespierre het volgens alle getuienis geen persoonlike gewin in die Franse Revolusie gesoek nie, maar vir die ideale waarna hy so hartstogtelik gestrewe het, sou hy enigiets doen, hoe afgryslik dit ook al was.