Messier 80 | ||||
Soort stelsel | Bolswerm | |||
Sterrebeeld | Skerpioen | |||
Waarnemingsdata (Epog J2000) | ||||
Regte klimming | 16h 17m 02,41s | |||
Deklinasie | -22º 58' 33,9" | |||
Skynmagnitude | 7,87 | |||
Besonderhede | ||||
Afstand (ligjaar) | 32 600 | |||
Skynbare grootte | 8,7 boogminute | |||
Massa | 5,02 × 105 M☉ | |||
Ander name | M80, NGC 6093, GCl 39 | |||
|
Messier 80 of M80 (ook bekend as NGC 6093) is ’n bolvormige sterreswerm in die sterrebeeld Skerpioen. Dit is in 1781 deur Charles Messier ontdek en in sy katalogus van komeetagtige voorwerpe opgeneem.
Die bolswerm is geleë halfpad tussen α Scorpii (Antares) en β Scorpii in ’n deel van die Melkweg wat ryk is aan newels. Dit kan met medium teleskope gesien word as ’n bont ligbal. Dit het ’n skynbare grootte van minder as 10 boogminute. Dit is sowat 32 600 ligjare van die Aarde af en sowat 95 ligjare in deursnee. Dit bevat verskeie honderdduisende sterre en is een van die digste bolswerms in die Melkweg.
M80 bevat redelik baie blousterre wat lyk of hulle jonger as die swerm self is. Dit kan wees dat hulle ’n deel van hul buitenste lae verloor het vanweë ’n interaksie met ander sterre of dalk vanweë botsings tussen sterre in die digte swerm. Op foto's van die Hubble-ruimteteleskoop kan streke met talle blousterre gesien word en dit dui daarop dat daar baie botsings in die kern is.
Op 21 Mei 1860 is ’n nova in M80 ontdek wat ’n skynbare magnitude van 7 bereik het. Die nova, die veranderlike ster T Scorpii, het vir ’n rukkie ’n absolute magnitude van −8,5 gehad en helderder as die hele sterreswerm geskyn.