Metamorfe gesteente

Kwartsiet in die Geologiemuseum van die Universiteit van Tartu, Estland.

Metamorfe gesteentes of metamorfiese gesteentes ontstaan uit die transformasie van bestaande rotse vanweë metamorfisme, wat beteken "struktuurverandering".[1] Die oorspronklike rots kan stollingsgesteente, afsettingsgesteente of ander metamorfe gesteente wees en word onderwerp aan hoë hitte (meer as 150 tot 200 °C) en druk (1 500 bar),[2] wat groot fisiese en/of chemiese veranderings veroorsaak.

Metamorfe gesteentes maak ’n groot deel van die aardkors uit en word geklassifiseer volgens tekstuur en chemiese en minerale samestelling. Soms word hulle gevorm omdat hulle diep onder die aarde se oppervlak lê, waar hulle aan hoë temperatuur en druk vanweë die boonste rotslae blootgestel word. Hulle kan ook ontstaan uit tektoniese prosesse soos kontinentale botsings, wat horisontale druk, wrywing en verwringing veroorsaak. Verder kan hulle ontstaan wanneer rotse verhit word deur die inpersing van warm, gesmelte rots (magma) uit die binnekant van die aarde. Die bestudering van metamorfe gesteentes, wat nou bo die aarde se oppervlak ontbloot is deur erosie en opheffing, verskaf inligting oor die temperature en druk diep binne die aardkors.

Voorbeelde van metamorfe gesteentes is gneis, leisteen, marmer, skis en kwartsiet.

  1. Dictionary.com. Besoek op 14 Januarie 2014.
  2. Blatt, Harvey en Robert J. Tracy, Petrology, W.H.Freeman, 2de uitg., 1996, p.355 ISBN 0-7167-2438-3

Developed by StudentB