Michail Gorbatsjof | |
President van die Sowjetunie
| |
Ampstermyn 15 Maart 1990 – 25 Desember 1991 | |
Vise | Gennadi Janajef |
---|---|
Voorafgegaan deur | Andrei Gromiko |
Opgevolg deur | Boris Jeltsin as President van Rusland |
12de Voorsitter van die Presidium van die Opperste Sowjet van die Sowjetunie
| |
Ampstermyn 1 Oktober 1988 – 25 Mei 1989 | |
Eerste minister | Nikolai Tichonof Nikolai Rizjkof |
1ste Voorsitter van die Opperste Sowjet van die Sowjetunie
| |
Ampstermyn 25 Mei 1989 – 15 Maart 1990 | |
Voorafgegaan deur | homself as Voorsitter van die Presidium van die Opperste Sowjet |
Opgevolg deur | Anatoli Loekjanof as speaker van die Parlement homself as staatshoof as die president van die Sowjetunie |
Lid van die Politburo
| |
Ampstermyn 1980 – 1991 | |
Persoonlike besonderhede
| |
Gebore | 2 Maart 1931 Priwolnoje, Russiese SFS, Sowjetunie |
Sterf | 30 Augustus 2022 (op 91) Moskou, Rusland |
Politieke party | Kommunistiese Party van die Sowjetunie (1950-1991) Sosiale Demokratiese Party van Rusland (2001-2004) Unie van Sosiale Demokrate (2007 - nou) Onafhanklike Demokratiese Party van Rusland (2008 - nou) |
Eggenoot/-note | Raisa Gorbatsjowa |
Alma mater | Staatsuniversiteit van Moskou |
Professie | Regsgeleerde |
Religie | Ateïs |
Handtekening | |
Toekennings | Nobelprys vir Vrede (1990) |
Michail Sergejewitsj Gorbatsjof (Russies: Михаил Сергеевич Горбачёв; 2 Maart 1931 – 30 Augustus 2022) was een van die invloedrykste Russiese politici van die laaste kwart van die twintigste eeu. Onder sy politieke leierskap het die politieke, sosiale en ekonomiese landskap van die Sowjetunie drasties verander - die magtige Kommunistiese Party wat die USSR langer as sewentig jaar met 'n ystervuis regeer het, het binne ses jaar sy gesag verloor en die land het 'n nuwe politieke en ekonomiese bedeling ingeskiet.
Die veranderinge in die USSR het 'n rimpeleffek op internasionale betrekkinge gehad: superkragbetrekkinge het verskuif met die beëindiging van die Koue Oorlog, die wapenwedloop het beduidend afgeneem, die politieke kaart van Europa het vinnig verander en die Berlynse Muur het geval wat gelei het tot die hervereniging van Duitsland.
Die wêreld van die tagtigerjare was nie dieselfde as dié van die negentigerjare nie omdat Gorbatsjof, wat nog sy hele lewe 'n lojale lid van die Kommunistiese Party was, die moed gehad het om sewentig jaar van kommunistiese ideologie te bevraagteken. Sy pogings om die Sowjetstelsel te hervorm het onder sy opvolger, Boris Jeltsin, gelei tot die algehele aftakeling van kommunisme.
Deur sy ampsbekleding as sekretaris-generaal van die Sentrale Komitee (1985—1990) en as president van die USSR (1990—1991), het Gorbatsjof twee beleide geïmplementeer wat verreikende gevolge gehad het: glasnost (openheid) en perestroika (herstrukturering). Onder glasnost het Gorbatsjof ongekende vryheid van spraak in die USSR ingestel. Perestroika was 'n poging om die politieke bestel te demokratiseer en 'n sukkelende, burokratiese en onproduktiewe ekonomie te verbeter deur beperkte vryemarkbeleide in te stel.
In 1989 het Gorbatsjof se verdraagsaamheid teenoor die antikommunistiese protes in Oos-Berlyn gelei tot die verkrummeling van die Berlynse Muur - 'n gebeurtenis wat 'n sneeubaleffek gehad het in die oos-Europese state wat sedert die veertigerjare onderworpe was aan kommunistiese beheer. Dit het Bulgarye, Tsjeggo-Slowakye, Hongarye, Pole en Roemenië aangemoedig om voor die einde van die jaar die kommunistiese beheer omver te werp. Gemotiveer deur die gebeure in Oos-Europa, het die klein Sowjetrepubliek van Litaue in 1990 die land se onafhanklikheid van die USSR aangekondig. In plaas daarvan om hierdie interne opstand gewelddadig te onderdruk, het Gorbatsjof met relatiewe selfbeheersing opgetree. 'n Golf van nasionalisme het deur die USSR beweeg en teen 1990 was elkeen van die vyftien Sowjet-republieke onafhanklik.
In 1990 het Gorbatsjof die Nobelprys vir Vrede ontvang.[1]