Morsekode

Die Amerikaanse J-38, waarmee morsekode gestuur word.
Die morsekode vir SOS ('n noodroepsein).
Morsekode: letters en nommers
(dieselfde as in die tabel links getoon, net vetgedruk).

Morsekode is 'n stelsel om letters, nommers, getalle en leestekens deur middel van 'n onderbroke kodesein te stuur. Dit is deur Samuel Morse en Alfred Vail in 1835 ontwerp.

Die kode was oorspronklik in die 19de eeu gebruik om persoonlike- en nuusboodskappe per draad en later per radio oor lang afstande te stuur en het so die spoed van kommunikasie geweldig verbeter.

Alhoewel morsekode amper heeltemal vervang is deur meer moderne elektroniese kommunikasiemiddels word dit steeds gebruik om sommige tweerigtingradioherhalers en navigasietoerusting te identifiseer. Dit word ook nog heelwat deur radio-amateurs gebruik om met mekaar te kommunikeer. Die SOS-noodroepsein, vir "Save Our Soul", is baie bekend en sommige moderne flitse het 'n ingeboude SOS-sein funksie. Voordele van morsekode is dat, in vergelyking met moderne analoog en digitale uitsendings, dit met baie eenvoudige toerusting gestuur en ontvang kan word en dat boodskappe met relatief min elektriese krag oor lang afstande hoorbaar kan wees.

Morsekode is 'n vroeë vorm van digitale kommunikasie en is opgevolg deur telex, en later faks. Anders as moderne binêre digitale kodes wat slegs twee state gebruik (0 en 1), gebruik Morsekode vyf: kolletjie (·), strepie (–), kort rus (tussen elke letter), medium rus (tussen woorde) en lang rus (tussen sinne).


Developed by StudentB