Nasiebou is die vorming van 'n oorkoepelende nasionale identiteit, om 'n gevoel van samehorigheid en lojaliteit aan die nasie wat deur nasiebou geskep is, te weerspieël. Dié nasionale identiteit word dan deur die bevordering en gebruik van nasionale simbole versterk.
Só sê prof. Elirea Bornman in die boek Die reënboognasie versus die kleure van die reënboog (2013). Sy verduidelik dat politieke wetenskaplikes soos Karl Deutsch en William Foltz, Charles Tilly en Reinhard Bendix die term gedurende die 1950’s en 1960’s begin gebruik het. "Hierdie teoretici het hoofsaaklik gefokus op prosesse van nasionale integrasie en konsolidasie wat tot die vestiging van die moderne staat bydra. Nasiebou word dus beskou as ’n proses van sosiale transformasie waardeur onderontwikkelde, arm en bekrompe groepe in ’n moderne staat byeengebring word – ’n staat wat gekenmerk word deur vrede, gelyke geleenthede en ekonomiese geleenthede", skryf sy.
Die boek verduidelik voorts dat die tradisionele, premoderne staat gewoonlik uit geïsoleerde groepe aan die onderpunt van die samelewing en 'n afsydige staat of vors aan die bopunt bestaan. Volgens nasiebou-teorie word hierdie twee sfere deur middel van nasiebouprosesse in nouer kontak met mekaar gebring. Diverse groepe word deur opvoeding en politieke deelname by die groter samelewing ingetrek. Die staat brei ook sy verpligtinge teenoor die groter samelewing uit deur 'n reeks dienste en geïntegreerde netwerke te bied. Sodoende word die onderdane van byvoorbeeld ’n monarg aktiewe en deelnemende burgers van die nasiestaat.
'n Belangrike aspek van dié proses is dat lojaliteit jeens en identifisering met subnasionale groepe (byvoorbeeld etniese of kulturele groepe) minder belangrik word en hul politieke relevansie verloor. Hierdie subnasionale identiteite word vervang deur lojaliteit teenoor en identifisering met die groter entiteit, naamlik die staat of nasiestaat.
Prof. Bornman sê dat ontleders soos Deutsch en Foltz redeneer dat modernisering – met ander woorde die uitbreiding van kommunikasie- en vervoernetwerke, asook toenemende verstedeliking en industrialisasie – lei tot die assimilasie van burgers van afgeleë streke en parogiale groepe in die hoofstroom van die nasionale lewe, die ontbinding van etnisiteit en die verskuiwing van lojaliteite van diverse etniese groepe na die staat. Gevolglik sou alle groepe uiteindelik in ’n homogene en verenigde nasie versmelt.