Nederlandse letterkunde

Die Nederlandse letterkunde (Nederlands: Nederlandse literatuur) omvat alle skryfwerk van letterkundige verdienstelikheid wat geskryf is in die Nederlandse taal, wat tans nagenoeg 23 miljoen moedertaalsprekers het. Die Nederlandse letterkunde is die produk van Nederland, België, Suriname, die Nederlandse Antille, en voormalige Nederlandssprekende streke soos Frans-Vlaandere, Suid-Afrika, en Indonesië. Die Nederlandse letterkunde moet egter nie verwar word met die Vlaamse letterkunde nie, wat die produk is van die Vlaamssprekende deel van die Belgiese bevolking, en soos die Afrikaanse letterkunde onderskei word van die letterkunde wat in Nederland geproduseer is, alhoewel die Vlaamse letterkunude in die konteks van hierdie artikel bespreek word as deel van die Nederlandse oftewel Nederlandstalige letterkunde. Nederlands Oos-Indië, soos Indonesië bekend gestaan het onder Nederlandse kolonisasie, het gelei tot 'n aparte deel van die Nederlandse letterkunde.[1][2] Op soortgelyke wyse is Nederlandse literatuur soms geskryf deur mense wat oorspronklik van oorsee afkomstig was, soos byvoorbeeld Anne Frank en Kader Abdolah. Wat sy vroegste fases betref, word die Nederlandse letterkunde gedefiniëer as daardie letterkunde wat geskryf is in een van die Nederlandse dialekte van die Lae Lande. Voor die 17de eeu was daar nie 'n verenigde standaardtaal nie; die dialekte wat as Nederlands beskou word het ontwikkel uit Oudfrankies. 'n Aparte Afrikaanse letterkunde het in die 19de eeu begin ontwikkel, en dit deel dieselfde letterkundige wortels as kontemporêre Algemeen Beschaafd Nederlands (ABN), aangesien Afrikaans ontwikkel het uit 17de eeuse Nederlands. Die begrip kan in 'n eng sin letterkunde uit Nederland beteken, of alternatiewelik soos vroeër vermeld, Nederlandstalige letterkunde (soos uiteengesit in hierdie artikel). Afrikaans en "Nieu-Nederlands" (vandag se Standaard Nederlands), soos die taalkundige Professor H.J.J.M. van der Merwe dit noem, is dus sustertale.[3]

Die Nederlandse letterkunde het, net soos ander literatuur in Europa, tot aan die einde van die 11de eeu byna geheel en al uit mondelinge oorlewering bestaan in die vorm van poësie. In die 12de en 13de eeue het skrywers begin om ridderlike romanse en hagiografieë vir edelmanne te skryf. Literatuur het vanaf die 13de eeu meer didakties geword en 'n proto-nasionale karakter begin aanneem. Aan die einde van die 13de eeu het 'n verandering in die Nederlandse letterkunde plaasgevind. Die Vlaamse en Nederlandse dorpe het begin floreer en 'n nuwe vorm van literêre uitdrukking het posgevat. Omstreeks 1440 is Rederijkerkamers, of in Afrikaans, Kamers van Retoriek, opgerig wat gewoonlik die middelklasse bedien het. Die vroegste van hierdie kamers van retoriek was betrokke by die uitvoering van misterieëspele. Anna Bijns (omstreeks 1494–1575) is 'n belangrike figuur wat in moderne Nederlands geskryf het. Die Hervorming het in 1540 neerslag gevind in die Nederlandse letterkunde by wyse van 'n bundel vertalings van die Psalms, en in 'n Nuwe Testamentiese vertaling in Nederlands uit 1566. Die mees bekende Nederlandse skrywer is die Katolieke dramaturg en digter, Joost van den Vondel (1587–1679).

Gedurende die laat 18de en vroeë 19de eeu het die Lae Lande deur groot politieke omwentelinge gegaan. Die prominentste skrywers was Willem Bilderdijk (1756–1831), Hiëronymus van Alphen (1746–1803), en Rhijnvis Feith (1753–1824). Piet Paaltjens (skuilnaam van François Haverschmidt, 1835–1894) verteenwoordig in Nederlands die Romantiese aar, wat deur skrywers soos Heine geïllustreer word. 'n Nuwe beweging genaamd die Tagtigers (die Beweging van 1880) is vernoem na die dekade waarin dit ontstaan het. Een van die belangrikste geskiedkundige skrywers van die 20ste eeu was Johan Huizinga, wat in die buiteland bekend was en in verskillende tale vertaalwerk gedoen het. Gedurende die 1920's het 'n nuwe groep skrywers ontstaan wat hulle van die sierlike styl van die Tagtigers gedistansieer het, onder leiding van Nescio (J.H.F. Grönloh, 1882–1961). Van die mees invloedrykste skrywers van die oorlogsjare was Anne Frank (wie se dagboek postuum gepubliseer is) en die misdaadfiksieskrywer, joernalis en digter Jan Campert. Skrywers wat deur die gruweldade van die Tweede Wêreldoorlog geleef het, het in hul werke die veranderde persepsie van die werklikheid voor die gees gehaal. Uiteraard het baie teruggekyk op hul ervarings, soos Anne Frank in haar dagboek gedoen het; dit was ook die geval met Het bittere kruid van Marga Minco, en Kinderjaren van Jona Oberski. Diè vernuwing, wat in die literatuurgeskiedenis as "ontluisterend realisme" beskryf sou word, word hoofsaaklik met drie skrywers geassosieer: Gerard Reve, W.F. Hermans en Anna Blaman. Reve en Hermans word dikwels saam met Harry Mulisch as die "Groot Drie" van die Nederlandse naoorlogse letterkunde aangehaal.

  1. Nieuwenhuys, Rob Mirror of the Indies: A History of Dutch Colonial Literature – vertaal uit die Nederlands deur E. M. Beekman (Uitgewer: Periplus, 1999) [1]
  2. Beekman E.M. Fugitive dreams: an anthology of Dutch colonial literature (Uitgewer: University of Massachusetts Press, Amherst, 1988) ISBN 0-87023-575-3 [2]
  3. H.J.J.M. van der Merwe, Herkoms en ontwikkeling van Afrikaans, 1970, Afrikaanse Pers-Boekhandel, Johannesburg

Developed by StudentB