Die Neurenberg-verhore (Duits: Nürnberger Prozesse) was 'n reeks militêre tribunale wat deur die Geallieerde Magte van die Tweede Wêreldoorlog ingestel is. Die verhore het veral internasionale aandag getrek weens die vervolging van die leidende figure in die politieke, militêre, en ekonomiese leierskap van Nazi-Duitsland. Hulle was almal op een of ander manier betrokke by die beplanning en die uitvoering van die Sjoa (Holocaust) en ander oorlogsmisdade. Die verhore is in die Duitse stad, Neurenberg gehou. Die eerste, en die bekendste van al hierdie verhore was deur Norman Birkett beskryf as "die grootste verhoor in die geskiedenis". Hy was een van die Britse regters wat in die verhore gedien het, waartydens die vernaamste oorlogsmisdadigers vanaf 20 November 1945 tot 1 Oktober 1946 deur die Internasionale Militêre Tribunaal (IMT) verhoor is Die Tribunaal se opdrag was om 23 van die belangrikste politieke en militêre leiers van die Derde Ryk vir oorlogsmisdade aan te kla. Een van die beskuldigdes, Martin Bormann, is egter in absentia verhoor, terwyl nog een, Robert Ley, 'n week nadat die verhore begin het, selfmoord gepleeg het.
Adolf Hitler, Heinrich Himmler, en Joseph Goebbels is nooit voor die hof gedaag nie want hulle het almal in die lente van 1945 selfmoord gepleeg, nog lank voordat die Geallieerdes klagstate teen hulle kon uitmaak.[1]
In die tweede ronde verhore was die sogenaamde "minder ernstige" oorlogsmisdadigers ingevolge die Beheerraadwet 10 deur die Amerikaanse Neurenberg Militêre Tribunale (NMT) hanteer. Hier was die Nazi's se dokters en regters verhoor.