Nikolai Gogol | |
---|---|
Gebore | Nikolai Wasiljewitsj Gogol 31 Maart 1809 Sorotsjintsi, Poltawa-goewernoraat, Russiese Ryk (tans Oekraïne) |
Sterf | 4 Maart 1852 (op 42) Moskou, Russiese Ryk |
Nasionaliteit | Russiese Ryk |
Beroep | Dramaturg, kortverhaalskrywer en romanskrywer |
Handtekening | |
Nikolai Wasiljewitsj Gógol (Russies: Никола́й Васи́льевич Го́голь, Oekraïens: Мико́ла Васи́льович Го́голь, Mikola Wasilowitsj Hohol; 31 Maart [O.S. 19 Maart] 1809 – 4 Maart [O.S. 21 Februarie] 1852[1]) was ’n Oekraïens gebore Russiese skrywer van toneelstukke, romans en kortverhale.[1]
Hy is deur sy tydgenote beskou as een van die voortreflike figure van die natuurlike skool van Russiese letterkundige realisme, hoewel latere kenners in Gogol se werke ’n fundamentele romantiese aspek gevind het, met tekens van surrealisme en die groteske (Die Neus, Wi, Die Jas, Nefski Prospekt). Sy vroeëre werke, soos Aande op ’n Plaas naby Dikanka, is beïnvloed deur sy Oekraïense opvoeding en die Oekraïense kultuur en folklore.[2][3] Sy latere werke het gehandel oor politieke korrupsie in die Russiese Ryk (Die Regeringsinspekteur, Dooie Siele) en dit het gelei tot sy eindelike verbanning.
Van sy ander bekende werke is die roman Taras Boelba (1835), die toneelstuk Huwelik (1842) en die kortverhale Dagboek van ’n Kranksinnige, Die Verhaal van hoe Iwan Iwanowitsj gestry het met Iwan Nikiforowitsj, Die Portret en Die Koets.