Nobelprys vir Vrede
| ||
Die Sweedse chemikus Alfred Nobel, wat in sy testament voorsiening vir die Nobelprys gemaak het. | ||
Toegeken vir | Uitstaande bydraes vir die mensdom in vrede | |
Borg | Noorweegse Nobelkomitee namens die boedel van Alfred Nobel | |
Land | Noorweë | |
Datum | 10 Desember | |
Eerste toekenning | 10 Desember 1901 | |
Webtuiste | nobelprize.org |
Die Nobelprys vir Vrede (Noors en Sweeds: Nobels fredspris) is een van vyf Nobelpryse wat nagelaat is deur die Sweedse nyweraar en uitvinder Alfred Nobel. Die pryse vir chemie, fisika, geneeskunde en letterkunde word jaarliks in Stockholm, Swede, toegeken, terwyl die Nobelprys vir Vrede in die Noorse hoofstad Oslo oorhandig word. Die Noorse Nobelkomitee word deur die Noorse parlement gekies, wat weer die pryswenner(s) kies.
Ten tye van Nobel se dood was Swede en Noorweë in 'n posisie onderling waar die Sweedse parlement slegs verantwoordelik was vir buitelandse sake en Sweedse binnelandse sake, en die Noorse parlement slegs vir Noorse binnelandse sake. Nobel het dus stipuleer dat die Vredesprys deur Noorweë toegeken moes word, aangesien hy gevrees het dat die verkiesingsproses negatief beïnvloed sou kon word deur 'n buitelandse moondheid. Volgens sy testament behoort die prys toegeken te word aan diegene "wat die beste of die meeste werk gedoen het vir die bevordering van broederskap tussen nasies én vir die totnietmaking of vermindering van weermagte én vir die ophou en bevordering van vredeskongresse".[1]
Anders as met die ander Nobelpryse kan die Vredesprys toegeken word aan 'n persoon of instansie wat te midde van die oplos van 'n konflik is en is dit nie nodig dat die konflik reeds opgelos moet wees nie. As gevolg daarvan lyk sommige van die toekennings vandag ietwat verdag, omdat die pogings nie blywende vrugte afgewerp het nie. Voorbeelde hiervan is die toekennings gegee aan Theodore Roosevelt, Lê Đức Thọ en Henry Kissinger; Lê Đức Thọ het die Nobelprys vir Vrede geweier omdat daar nie vrede in Viëtnam was nie. Hy is die enigste persoon ooit wat die Nobelprys vir Vrede verwerp het.[2] Voorts word die komitee ook voortdurend deur regse groepe gekritiseer omdat dit skyn dat hulle bevooroordeeld is ten gunste van pro-linkse bewegings. Die prys wat toegeken is aan Jasser Arafat dien as brandstof vir hul argument, aangesien hulle hom beskou het as 'n ondersteuner van terrorisme. Aung San Suu Kyi, wenner van die Nobelprys vir Vrede in 1991, is later vir haar stilte wyd gekritiseer toe honderdduisende inheemse Islamitiese Rohingia in 2017 deur die Mianmarese owerhede en weermag uit hul gebiede verdryf is en na Bangladesj moes vlug.[3] Abiy Ahmed, wat die Nobelprys vir Vrede in 2019 ontvang het, is hewig vir die oorlogvoering in die Noord-Ethiopiese Tigray-streek gekritiseer en van etniese suiwering beskuldig.[4]
Die Noorweegse Nobelkomitee namens die boedel van Alfred Nobel kondig die naam van die Nobelpryswenners jaarliks vroeg in Oktober aan,[5] met die Nobelprys vir Vrede tradisioneel vyfde en op 'n Vrydag. Die prys word sedert 1990 jaarliks in Oslo, Noorweë, se stadsaal toegeken op 10 Desember, die herdenking van Nobel se dood. Tot en met 2024 is die prys aan altesaam 111 individue en 31 organisasies toegeken.[6] Nog 18 vroue het dit gekry, meer as enige ander Nobelprys.[7]
Die 2024-Nobelprys vir Vrede is toegeken aan die Japannese nieregeringsorganisasie Nihon Hidankyo "vir sy pogings om 'n wêreld vry van kernwapens te bewerkstellig en vir die demonstrasie deur getuieverklarings dat kernwapens nooit weer gebruik mag word nie."[8]
Die pryse, wat 'n bedrag geld (SEK9 miljoen, omtrent VSA$1 miljoen per pryskategorie, wat dan gelykop onder die Bekroondes verdeel word),[9] 'n goue medalje en 'n diploma insluit, word op 10 Desember, die herdenking van Nobel se sterfdag in 1896, tydens 'n seremonie deur die Noorse koning, tans Harald V van Noorweë, in die Oslose stadsaal uitgedeel.
Hieronder volg 'n lys van die ontvangers van die Nobelprys vir Vrede vanaf 1901 tot op hede.
1900's – 1910's – 1920's – 1930's – 1940's – 1950's – 1960's – 1970's – 1980's – 1990's – 2000's – 2010's – 2020's