Ockham se skeermes (Latyn: lex parsimoniae, die wet van spaarsaamigheid) is die stelling dat wanneer daar verskeie hipoteses is wat 'n verskynsel in 'n gelyke mate kan verduidelik, die hipotese gekies moet word wat die minste aannames bevat en die minste entiteite veronderstel. Dit is 'n beginsel van die kennisteorie wat toegeskryf word aan die 14de eeuse Engelse filosoof Willem van Ockham, 'n franciskaanse monnik.
Dit beteken dat ons nie die bestaan van iets moet aanvaar as ons ervarings ook op 'n ander manier verduidelik kan word nie. In die Latyn: Entia non sunt praeter necessitatem multiplicanda: "Die eenhede (gepostuleerde voorwerpe binne 'n hipotese) moet nie vermeerder word sonder noodsaaklikheid nie".
Die 'skeermes' - 'n term wat Ockham self nie gebruik het nie - simboliseer die weg skeer van alle onnodige kompleksiteite om die eenvoudigste verduideliking te verkry. Ockham het hierdie beginsel gebruik om spekulatiewe konsepte in die filosofie te verwerp. Betroubare spekulasies oor die wêreld is vir hom uitgesluit. Dit pas in met sy filosofie van nominalisme, die idee dat abstrakte konsepte nie op sigself bestaan nie, maar slegs hulpkonstruksies van die menslike verstand is.