Spele van die XXXIIe Olimpiade | ||||||||||||||||||||||||
|
Die Olimpiese Somerspele 2020 (Japannees: 2020年夏季オリンピック, Hepburn: Nisen Nijū-nen Kaki Orinpikku), amptelik bekend as die Spele van die XXXIIste Olimpiade, sou oorspronklik tussen 24 Julie en 9 Augustus 2020 in Tokio, Japan, aangebied gewees het,[1] met die nuwe datums van 23 Julie tot 8 Augustus 2021.[2] Tydens die geleentheid het 11 090 atlete uit 206 nasies aan 339 items in 33 verskillende sportsoorte deelgeneem.
Dit was die 32ste aanbieding van die Somerspele sedert 1896 en die tweede keer wat Tokio die spele gehuisves het na hulle eerste spele in 1964. Naas Tokio was Istanboel en Madrid kandidate vir die aanbied van die 2020-Somerspele. Ná die Rugbywêreldbeker 2019 is die Olimpiese Somerspele 2020 die tweede groot sportkompetisie in Japan binne twee jaar. Verder was dit die tweede van drie agtereenvolgende Olimpiese Spele wat in 'n Asiatiese stad aangebied was, ná Pyeongchang (2018) en voor Beijing (2022).
Die opening- en sluitingseremonies het in die Japannese Nasionale Stadion in Tokio plaasgevind. Soos gebruiklik het die lande in alfabetiese volgorde die stadion ingestap met Griekeland eerste en die gasheer Japan laaste, maar aangesien die plaaslike taal Japannees is, is dié taal se alfabet gebruik om die volgorde te bepaal. Beide Chad le Clos (swem) en Phumelela Mbande (veldhokkie) het die Suid-Afrikaanse vlag ingedra.[3]
As gevolg van die wêreldwye Covid-19-pandemie het die Internasionale Olimpiese Komitee met die Japannese reëlingskomitee ooreengekom om die Olimpiese Somerspele 2020 vir een jaar uit te stel. Die sportgeleentheid het egter steeds sy amptelike naam behou as die Olimpiese Somerspele van die jaar 2020. Dit was die eerste keer dat 'n moderne Olimpiese Spele uitgestel en in 'n onewe jaar gehou is.[4][5] Verder het die Japannese regering en die Internasionale Olimpiese Komitee aangekondig dat dit sonder enige toeskouers sou plaasvind.[6][7][8]
Die Paralimpiese Somerspele 2020 is tussen 24 Augustus en 5 September 2021 in Tokio gehou.