Die ontbinding van die Sowjetunie is amptelik op 26 Desember 1991 verorden, kragtens deklarasie nommer 142-H van die Republieke van die Opperste Sowjet van die Sowjetunie.[1] Die deklarasie het die onafhanklikheid van die voormalige Republieke van die Sowjetunie en die Gemenebes van Onafhanklike State (GOS) erken, hoewel vyf van die ondertekenaars dit eers baie later, of glad nie, bekragtig het. Die agste en laaste leier van die Sowjetunie, Michail Gorbatsjof, het die dag vantevore bedank, sy kantoor as uitgedien verklaar en sy mag, wat die Sowjetkernmissielkodes ingesluit het, aan die Russiese president Boris Jeltsin oorhandig. Daardie aand om 19:32 is die Sowjetvlag vir die laaste keer by die Kremlin gestryk en met die voorrevolusionêre Vlag van Rusland vervang.
In die voorafgaande maande, van Augustus tot Desember, het al die republieke, Rusland inkluis, van die unie afgestig. Die week voor die formele ontbinding van die unie, het elf republieke – almal behalwe die Baltiese lande en Georgië – die Alma-Ataprotokol onderteken wat die GOS formeel erken en verklaar het dat die Sowjetunie nie meer bestaan nie.[2][3] Die ontbinding van die Sowjetunie (Russies: распад СССР) het ook die einde van die Koue Oorlog beteken. Die 1989-revolusies en die einde van die Sowjetunie was ook die einde van die dekadelange vyandigheid tussen die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) en die Warskouverdragslande. Die vyandskap tussen NAVO en Rusland het egter voortgeduur.
Verskeie van die voormalige republieke van die Sowjetunie het noue bande met Rusland gehandhaaf en multilaterale organisasies soos die Eurasiese Ekonomiese Gemeenskap, die Uniestaat, die Eurasiese Doeane-unie en die Eurasiese Ekonomiese Unie gevorm om ekonomiese en veiligheidsamewerking aan te moedig. Sommiges het by NAVO en die Europese Unie aangesluit om weg te breek van hul militêre- en ekonomiese afhanklikheid van Rusland.