Oortwolk

’n 3D-diagram van die Oortwolk.

Die Oortwolk of Öpik-Oortwolk is ’n teoretiese sferiese wolk wat hoofsaaklik uit ysige planetesimale bestaan en rofweg 50 000 AE, of 1 ligjaar, van die Son af geleë is.[1] Dit is genoem na die Nederlandse sterrekundige Jan Oort en die Estiese sterrekundige Ernst Öpik. Volgens raming lê die wolk ’n kwart van die afstand na Proxima Centauri, die ster wat die naaste aan die Son is. Die Kuiper-gordel en verstrooide skyf, twee ander bronne van Trans-Neptunus-voorwerpe, se afstand van die Son is minder as ’n duisendste van dié van die Oortwolk. Die buitenste reik van die wolk definieer die swaartekraggrens van ons Sonnestelsel. [2]

Daar word geglo die Oortwolk bestaan uit twee streke: ’n sferiese buitenste wolk en ’n skyfagtige binnenste wolk, ook bekend as die Hillswolk. Voorwerpe in die Oortwolk bestaan hoofsaaklik uit vlugtige yse, soos water, ammoniak en metaan. Sterrekundiges glo die materie waaruit die Oortwolk bestaan, het nader aan die Son gevorm en is vroeg in die Sonnestelsel se ontwikkeling na die buitenste ruim geslinger vanweë die uitwerking van die reuseplanete se swaartekrag.[1]

Hoewel die Oortwolk nog nie direk waargeneem is nie, glo sterrekundiges dit is die bron van baie van die langperiode- en Halley-tipe komete wat die binneste Sonnestelsel binnekom, asook van die Sentoure en Jupiterfamilie-komete.[3] Die buitenste Oortwolk is slegs losweg verbind aan die Sonnestelsel en word dus maklik beïnvloed deur die swaartekrag van verbygaande sterre en die Melkweg self. Hierdie kragte veroorsaak nou en dan dat ’n komeet uit sy wentelbaan uit die Oortwolk geruk en dan na die binnenste Sonnestelsel geslinger word.[1] As die wentelbane van kortperiodekomete in ag geneem word, kom hulle waarskynlik eerder van die verstrooide skyf af, hoewel sommige moontlik hul oorsprong in die Oortwolk gehad het.[1][3] Daar is slegs vier liggame wat as moontlike lede van die binnenste Oortwolk beskou word: 90377 Sedna, 2000 CR105, 2006 SQ372 en 2008 KV42.[4][5]

  1. 1,0 1,1 1,2 1,3 Alessandro Morbidelli (3 Februarie 2008). "Origin and dynamical evolution of comets and their reservoirs" (PDF) (in Engels). arxiv. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Mei 2020. Besoek op 26 Mei 2007.
  2. "NASA Solar System Exploration". "Oort Cloud". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Januarie 2016. Besoek op 2 Desember 2008.
  3. 3,0 3,1 V. V. Emelyanenko, D. J. Asher, M. E. Bailey (2007). "The fundamental role of the Oort cloud in determining the flux of comets through the planetary system". Monthly Notices of the Royal Astronomical Society. Royal Astronomical Society. 381 (2): 779–789. doi:10.1111/j.1365-2966.2007.12269.x. Besoek op 31 Maart 2008.{{cite journal}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  4. Alessandro Morbidelli; Levison, Harold (2004). "Scenarios for the Origin of the Orbits of the Trans-Neptunian Objects 2000 CR105 and 2003 VB12 (Sedna)". The Astronomical Journal. University of Chicago Press. 128 (5): 2564–2576. doi:10.1086/424617.
  5. "International Team of Astronomers Finds Missing Link". NRC Herzberg Institute of Astrophysics. 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 Oktober 2008. Besoek op 5 September 2008.

Developed by StudentB