Paleontologie is die wetenskaplike bestudering van lewe wat bestaan het voor die begin van die Holoseen (rofweg 5 000 jaar gelede) of soms aan die begin daarvan. Dit handel oor die versteende oorblyfsels van lewensvorme, of fossiele – hul ouderdom, oorsprong en klassifikasie. Dit sluit ook in die bestudering van evolusie en die wisselwerkings van organismes met mekaar en hul omgewing. ’n Paleontoloog is ’n wetenskaplike wat fossiele ondersoek.
Paleontologiese waarnemings dateer uit die 5de eeu v.C. Die wetenskap het in die 18de eeu gevestig geraak as gevolg van die werk van Georges Cuvier oor vergelykende anatomie en het in die 19de eeu vinnig ontwikkel. Die term kom van die Griekse παλαιός, palaios "oud, antiek", ὄν, on "wese", en λόγος, logos "spraak, gedagtes, studie".[1]
Paleontologie lê op die grens tussen biologie en geologie, maar verskil van argeologie daarin dat dit die studie van die anatomies moderne mens uitsluit. Dit gebruik tegnieke uit ’n groot verskeidenheid wetenskappe, insluitende biochemie, wiskunde en die ingenieurswese. Die gebruik van al hierdie tegnieke het paleontoloë in staat gestel om ’n groot deel van die evolusiegeskiedenis van die lewe te bepaal, terug tot omtrent die tyd dat die Aarde lewe begin onderhou het (sowat 3,8 miljard jaar gelede). Namate kennis toegeneem het, het paleontologie gespesialiseerde onderafdelings ontwikkel waarvan sommige op verskillende soorte fossiele konsentreer terwyl ander ekologie en omgewingsgeskiedenis soos antieke klimate bestudeer.
Liggaams- en spoorfossiele is die belangrikste getuienis van die antieke lewe, en geochemiese getuienis help om die evolusie van lewe te ontsyfer van voordat organismes groot genoeg was om liggaamsfossiele agter te laat. Om die ouderdom van hierdie oorblyfsels vas te stel is noodsaaklik, maar moeilik: Soms is radiokoolstofdatering van aangrensende rotslae moontlik en dit sorg vir datums wat tot binne 0,5% akkuraat is, maar paleontoloë moet meer dikwels staatmaak op relatiewe datering deur die "legkaarte" van biostratigrafie op te los.
Om antieke organismes te klassifiseer is ook soms moeilik, want baie van hulle pas nie in die biologiese klassifikasiestelsel van Carl Linnaeus wat algemeen vir lewende organismes gebruik word nie. Paleontoloë gebruik al hoe meer die kladistiese stelsel om evolusionêre "stambome" saam te stel. In die laaste kwart van die 20ste eeu het molekulêre filogenetika ontwikkel wat ondersoek instel na hoe naby organismes verwant is deur te meet hoe baie die DNS in hul genome ooreenstem. Molekulêre filogenetika is ook al gebruik om die datums te beraam waarop spesies vertak het, maar daar is omstredenheid oor die betroubaarheid van sulke ramings.