Basilica Collegiata
«Sancta Maria ad Martyres»
Opgerig
Tussen 114 en 128 n.C.
Bewaringstoestand
Grotendeels in sy oorspronklike toestand bewaar
(besonderhede soos vergulde bronsversierings en rosette
in die kofferpanele asook bronsplate aan die koepel se buitekant het verlore gegaan)
Status
In staatsbesit (vrye toegang vir besoekers)
Bestuur deur
Ministero per i beni e
le attività culturali e per il turismo
(Departement van Kultuursake en Toerisme)
Die Panteon (Grieks: Πάνθειον (ἱερόν) of Πάνθεον «Tempel van alle Gode», afgelei van πᾶν pān «alle» en θεός theós «God»; Latyn: Pantheum) is 'n antieke Romeinse heiligdom wat moontlik reeds gedurende die bewind van keiser Trajanus omstreeks 114 n.C. op die Marsveld (Campus Martius) te Rome begin en onder Hadrianus tussen 125 en 128 voltooi is. Historici is tans nog oneens oor die tempel se oorspronklike funksie omrede dit - ondanks die feit dat sy ontwerp sterk sakrale kenmerke het en dit blykbaar aan 'n verskeidenheid godhede gewy was - ook as gebou beskou kan word wat as imperiale argitektoniese magsvertoon beplan is. In elk geval is daar geen historiese dokumente uit die ontstaantyd van die tempel oorgelewer nie wat lig sou kan gooi op die ontwerper of ontwerpers, hul doelwit en die presiese boutyd.
Volgens die antieke Romeinse geskiedskrywer Cassius Dio was daar standbeelde van Mars en Venus, naas dié van ander godhede, asook een van Gaius Iulius Caesar wat ná sy afsterwe goddelike verering as Divus Iulius geniet het. Cassius Dio, wie se beskrywing van die Panteon uit die vroeë 3de eeu n.C. dateer, was reeds nie meer in staat om die presiese oorspronklike funksie van die heiligdom uit te lig nie. Sy kommentare dui nogtans daarop dat die tempel volgens die hellenistiese voorbeeld in noue samehang met die Juliese heerserfamilie gestaan het. So word die godhede Venus en Mars tradisioneel verbind met Julius Caesar en sy aangenome seun Gaius Octavius (deur sommige Octavianus[1] genoem) - die latere keiser Augustus. Die benaming Panteon vir die heiligdom is moontlik hiervan afgelei, alhoewel Dio vermoed dat die koepel, wat baie op die hemel lyk, die naamgewende element was.
Die Panteon bestaan uit twee argitektoniese hoofelemente - 'n pronaos of voorkamer tot die heiligdom met 'n reghoekige plattegrond en tempelfasade in sy noordelike gedeelte (wat met sy magtige fries en timpaan oor agt sierlike Korintiese granietsuile ietwat disproporsioneel lyk), en 'n ronde sentraalbou met koepeldak in die suide. Die oorgang tussen die twee elemente is vir traphuise gebruik. Een van die mees innovatiewe argitektoniese elemente is die Panteon se koepel, een van die vroegste strukture waarvoor 'n betonmengsel (opus caementitium of caementicium genoem) gebruik is - met ligte vulkaniese tuf- en puimsteen in die boonste kringe.
Die gesofistikeerde ontwerp waarborg 'n maksimum aan stabiliteit ondanks die betreklik lae gewig en getuig van die presiese kennis in verband met beton as boumateriaal, maar ook van die sorgvuldige beplanning wat die projek geverg het.[2] Om 'n soortgelyke meesterwerk van bou- en ingenieurskuns te skep (met die grootste nie-versterkte betonkoepel ter wêreld), sou selfs vir huidige spesialiste, ondanks die beskikbaarheid van die modernste hulpmiddele, 'n uitdaging wees. Die Panteon se ontwerp word deur sommige deskundiges aan die befaamde argitek Apollodorus van Damaskus toegeskryf, alhoewel sy betrokkenheid by die bouwerk nie deur antieke bronne bevestig kan word nie.