Panther-tenk

Panther
Tipe Mediumtenk
Oorsprong Vlag van Nazi-Duitsland Nazi-Duitsland
Diensgeskiedenis
In gebruik 1943–1945 (Duitsland)
1944–1947 Frankryk
Gebruik deur Duitsland
Oorloë Tweede Wêreldoorlog
Produksiegeskiedenis
Ontwerper MAN AG
Ontwerp 1942
Vervaardiger MAN, Daimler-Benz, MNH
Vervaardig 1943–1945
Aantal gebou Ongeveer 6 000
Spesifikasie
Massa 44,8 ton
Lengte 6,87 m
Wydte 3,27 m
Hoogte 2,99 m
Bemanning 5 (drywer, kanonnier, laaier, bevelvoerder, radio operateur)

Pantser
16 - 100 mm
Primêre
bewapening
1 × 7.5 cm KwK 42 L/70
met 79 projektiele
Sekondêre
bewapening
2 × 7.92 mm MG 34 masjiengewere
met 5 100 rondtes
Enjin V-12 petrolaangedrewe Maybach HL230 P30
Enjinlewering 515 kW
Transmissie ZF AK 7-200. 7 vorentoe en 1 trurat
Suspensie Dubbele torsiestawe
Brandstofkapasiteit 720 liter
Snelheid 55 km/h (eerste modelle)
46 km/h latere modelle

Die Panther is 'n Duitse mediumtenk wat gebruik is op die Oos- en Wesfront tydens die Tweede Wêreldoorlog vanaf die middel van 1943 tot aan die einde van 1945. Die tenk se amptelike nommer is Sd.Kfz. 171. Dit was amptelik die Panzerkampfwagen V Panther genoem tot op 27 Februarie 1944 toe Hitler 'n bevel gegee het dat die Romeinse "V" van die naam verwyder moet word. Hedendaagse Engelse verslae verwys somtyds na die tenk as die Merk V.

Die Panther is ontwikkel as 'n teenvoeter vir die T-34 Sowjettenk en vervang die Panzer III en Panzer IV tenks. Tog het dit langs die Panzer IV en die swaarder Tiger I-tenk tot aan die einde van die oorlog geveg. Die Panther word beskou as die een van die beste tenks van die Tweede Wêreldoorlog vir sy uitstekende slaankrag en beskerming, maar sy betroubaarheid was egter nie nie na wense.[1]

Die Panther ontwerp was 'n kompromie. Terwyl dit bykans dieselfde Maybach V12 petrolaangedrewe (515 kW) enjin as die Tiger I gehad het, het dit beter pantser aan die voorkant gehad,[2] die kanon het beter deurdringingsvermoë gehad, was ligter en vinniger, en kon ruwwe terrein beter hanteer as die Tiger I. Dit was ten koste van dunner pantser aan die kante, wat dit kwesbaar gemaak het vir flankaanvalle. Die Panther was effektief in oop terrein en langafstand operasies, maar dit het nie effektiewe hoëplofkrag ondersteuning aan die infanterie gelewer nie.[3]

Die Panther was baie goedkoper om te bou as die Tiger I en slegs marginaal duurder as die Panzer IV. Sleutelelemente van die Panther se ontwerp soos die pantser, transmissie en finale aandrywing is vereenvoudig om die produksietempo te verbeter en by skaars grondstofbehoeftes aan te pas. Tog word die totale ontwerp deur sommiges as oor-ontwerp beskou.[4][5] Daar was gejaag om die Panther te laat deelneem aan die Slag van Koersk in die somer van 1943, ten spyte van bestaande tegniese probleme. Dit het tot gevolg gehad dat daar groot verliese was as gevolg van meganiese probleme. Die meeste van die probleme was reggestel teen die einde van 1943 en vroeë 1944. Die konstante bombardering van die aanlegte, materiaalskaarstes - veral hoë kwaliteit allooie benodig vir kritiese onderdele - wat vererger het, brandstoftekorte, opleidingspasie en dalende kwaliteit van die bemannings het die tenk se effektiwiteit beïnvloed.

Alhoewel die tenk amptelik as 'n mediumtenk geklassifiseer is, het dit meer geweeg as 'n swaartenk. Met 'n massa van 44,8 ton was dit min of meer in dieselfde kategorie as die Amerikaanse M26 Pershing, (41,7 ton), die Britse Churchill (40,7) en die Sowjet IS-2 (46 ton) swaartenks. Die Panther het 'n hoë slaankrag-tot-massaverhouding gehad; dit was 'n mobiele tenk ten spyte van sy massa. Tog het sy massa logistieke probleme veroorsaak, dit kon nie oor alle brûe ry nie.

Die benaming van die Panther se variante het nie, soos die meeste Duitse tenks, in alfabetiese orde plaasgevind nie. Die Panther "D" (Ausf. D), is opgevolg deur die "A" en "G" variante.

  1. Hart, Stephen A. (2003). Panther Medium Tank 1942-45. Osprey Publishing Ltd. pp. 41–43. ISBN 1841765430.
  2. Bird, Lorrin Rexford; Livingston, Robert D. WWII Ballistics: Armor and Gunnery. Overmatch Press. p. 13.
  3. Zaloga 2015, p. 202.
  4. Zaloga 2008, p. 95-6.
  5. Docherty 2013, p. 124.

Developed by StudentB