Pieter I | |
---|---|
Keiser van die Hele Rusland | |
Skildery van Pieter die Grote omstreeks 1717, deur Carel de Moor. | |
Dinastie | Romanof |
Bewind | 1682-1725 |
Volle naam | Pieter Aleksejewitsj Romanof |
Ander titels | Tsaar |
Gebore | 9 Junie [O.S. 30 Mei] 1672 |
Moskou | |
Gesterf | 8 Februarie [O.S. 28 Januarie] 1725 (op 52) |
Sint Petersburg | |
Voorganger | Fjodor III |
Opvolger | Katharina I |
Gade | Jewdoksija Lopoechina Katharina I |
Kinders | O.a. tsarewitsj Aleksei Aleksander Anna Elisabeth Natalia Pieter Pawel |
Vader | Aleksei van Rusland |
Moeder | Natalja Narisjkina |
Pieter I Aleksejewitsj (Russies: Пётр I Алексеевич;[nota 1] Moskou, 9 Junie [O.S. 30 Mei] 1672 - Sint Petersburg, 8 Februarie [O.S. 28 Januarie] 1725), ook genoem Pieter die Grote,[nota 2] was van 1682 tot 1721 tsaar en tot 1725 die eerste keiser van Rusland.
Tot in 1696 het hy saam met sy halfbroer Iwan V regeer. Daarna was hy die absolute monarg, 'n outokraat wat die uiteindelike gesag gebly en 'n goed georganiseerde, ordelike polisiestaat op die been gebring het.[1][2]
Die grootste deel van sy bewind is deur lang oorloë teen die Ottomaanse en Sweedse Ryk in beslag geneem. Ondanks aanvanklike probleme was die oorloë eindelik geslaagd en het dit gelei tot die land se uitbreiding tot by die See van Azof en die Oossee. Daarmee is die basis geskep vir Rusland as 'n vlootmag. Sy oorwinning in die Groot Nordiese Oorlog het die tydperk van Swede as 'n groot mag en sy oorheersing van die Baltiese streek beëindig, terwyl dit Rusland se status so verhoog het dat dit bekend geword het as die Russiese Ryk. Pieter het 'n kultuurrewolusie gelei wat sommige van die tradisionele en Middeleeuse sosiale en politieke stelsels vervang het met moderne, wetenskaplike, verwesterde stelsels wat op die radikale Verligting geskoei was.[3][4]
In Desember 1699 het hy die Juliaanse kalender ingestel,[5] en dit het die Bisantynse kalender vervang wat lank in Rusland gebruik is.[6] Die Russies-Ortodokse Kerk het egter dié verandering teengestaan.[7] In 1703 het Pieter die eerste Russiese koerant, Sankt-Peterboergskije Wedomosti, gestig en opdrag gegee vir 'n hervorming van die Russiese alfabet, wat hy grootliks alleen ontwerp het.
Aan die oewers van die Newarivier het hy Sint Petersburg laat bou, 'n stad wat deur die Italiaanse filosoof Francesco Algarotti "die venster op die Weste" genoem is.[8][9] In 1714 het Pieter Rusland se hoofstad van Moskou na Sint Petersburg geskuif, 'n status wat dit tot in 1918 behou het.
Pieter het 'n groot belangstelling getoon in plante, diere en minerale, in misvormde wesens of uitsonderings op die natuurwette. Hy het navorsing oor misvorming aangemoedig en 'n einde gebring aan die bygelowige vrees vir monsters.[10] Hy het nywerhede en hoër onderwys in Rusland bevorder. Die Russiese Wetenskapakademie en die Universiteit van Sint Petersburg is in 1724 gestig.
Pieter kry hoofsaaklik die krediet vir die modernisering van die land. Hy het dit vinnig in 'n groot Europese mag omskep. Sy administratiewe hervormings, veral die regerende Senaat wat in 1711 gestig is, die staatsdepartemente van 1717 en die Tabel van Range in 1722, het 'n blywende invloed op Rusland gehad, en baie instellings van die Russiese regering kan hulle ontstaan na sy bewind terugspeur.
Verwysingfout: <ref>
tags exist for a group named "nota", but no corresponding <references group="nota"/>
tag was found