Hanyu pinyin (Vereenvoudigde Chinees: 汉语拼音, Tradisionele Chinees: 漢語拼音, pinyin: Hànyǔ pīnyīn, uitspraak: [pʰín ín]) is die amptelike stelsel waarmee Chinese karakters in die Volksrepubliek China, Taiwan (Republiek China),[1] Singapoer en Maleisië in die Latynse alfabet getranskribeer word. Dit word algemeen gebruik om Standaard-Chinees te leer en om Chinese name in buitelandse publikasies te spel. Dit word ook as 'n invoermetode gebruik om Chinese karakters (汉字 / 漢字, hànzì) op rekenaars te skryf.
Die pinyinstelsel is in die 1950's ontwikkel en is op vroeë vorme van romanisering gebaseer. Dit is in 1958 deur die Chinese regering gepubliseer en is sedertdien etlike male hersien.[2] Die Internasionale Standaardeorganisasie het pinyin in 1982 as die standaard aanvaar.[3] Die stelsel is in 2009 in Taiwan in gebruik geneem, waar dit algemeen as die Nuwe Fonetiese Stelsel bekend staan en slegs vir romanisering en nie vir opvoedkundige of rekenaarinvoerdoeleindes gebruik word nie.[4][5]
Hànyǔ beteken die gesproke taal van die Han-mense, en pinyin beteken "gespelde klank" (fonetiek).[6]
Die teenoorgestelde proses, d.i. transkripsie van Latynse letters na Chinees, geniet slegs semi-amptelike status en is hewig inkonsekwent weens die groot aantal homofone in Mandaryn-Chinees.