Planetologie is die wetenskaplike studie van planete (insluitende Aarde), mane en planeetstelsels (veral dié in die Sonnestelsel) asook die prosesse wat hulle gevorm het. Dit behels die bestudering van voorwerpe so klein soos mikrometeoroïdes tot so groot soos gasreuse in ’n poging om hulle samestelling, dinamika, vorming, verband en geskiedenis te bepaal. Dit is ’n baie interdissiplinêre veld wat oorspronklik uit sterrekunde en aardrykskunde ontwikkel het,[1] maar nou baie dissiplines insluit, onder meer planetêre geologie (saam met geochemie en geofisika), kosmochemie, atmosfeerkunde, oseanografie, hidrologie, teoretiese planetologie, glasiologie en eksoplanetologie.[1] Dissiplines wat hiermee verband hou, sluit in ruimtefisika, wat die uitwerking van die Son op die liggame in die Sonnestelsel bestudeer, en astrobiologie.
Planetologie het waarnemings- en teoretiese takke wat met mekaar verband hou. Waarnemingsnavorsing kan ’n kombinasie insluit van ruimteverkenning, veral met robottuie, sendings wat afstandswaarneming behels en eksperimentele werk in laboratoriums op die Aarde. Die teoretiese komponent sluit rekenaarsimilasies en wiskundige modelbou in.
Planetoloë werk gewoonlik in die departement sterrekunde of fisika aan universiteite, maar daar is ook baie planetologie-instellings wêreldwyd. Verskeie groot konferensies word elke jaar gehou.