Plinius die ouere | |
---|---|
Plinius die ouere: 'n denkbeeldige 19de-eeuse portret. Geen eietydse voorstelling van Plinius het oorleef nie. | |
Gebore | Gaius Plinius Secundus 23 n.C. |
Sterf | 25 Augustus 79 |
Nasionaliteit | Antieke Romeins |
Beroep | outeur, natuurkundige, natuurfilosoof, asook vloot- en weermagkommandeur |
Bekend vir | Naturalis Historia |
Gaius Plinius Secundus (23 n.C. – 25 Augustus 79), beter bekend as Plinius die ouere, was 'n Romeinse outeur, natuurkundige en natuurfilosoof, asook 'n vloot- en weermagkommandeur van die vroeë Romeinse ryk, en persoonlike vriend van keiser Vespasianus. Sy vrye tyd is grootliks aan studies gewy; aan die beskrywings van sy ondersoeke en veldwaarnemings van natuurlike en geografiese verskynsels, waaruit hy 'n ensiklopediese werk, die Naturalis Historia, saamgestel het, wat as 'n toonbeeld aanvaar is in baie aanverwante werke daarna. Plinius die jongere, sy susterskind, het só na hom verwys in 'n brief aan die historikus Tacitus:
Vanuit my eie oogpunt gesien, ag ek diegene geseënd vir wie, as 'n vergunning van die gode, dit beskore is om òf te doen wat beskrywenswaardig is, òf te skryf wat lesenswaardig is; en uitermate geseënd diesulkes wat beskik oor albei voorregte. Onder die laasvermelde garde sal my oom getel word, danksy sy eie en ook jou lektuur.[1]
Plinius verwys hier daarna dat Tacitus op 'n tans verlore werk van sy oom, Geskiedenis van die Germaanse Oorloë, aangewese was. Plinius die ouere is oorlede op 25 Augustus 79 n.C., tydens 'n reddingspoging om 'n vriend en sy familie van die nabye van berg Vesuvius te ontruim, kort nadat die uitbarsting daarvan die stede Pompeji en Herculaneum uitgewis het. 'n Heersende wind het hul skip verhoed om weer van die strand terug te keer. Hy het inmekaargesak en gesterf, en sy metgeselle het dit later toegeskryf aan giftige gasse. Maar aangesien hulle self daardeur ongedeerd gelaat is, kan natuurlike oorsake nie uitgesluit word nie.[2]