Pluimvee is gedomestikeerde voëls wat deur mense aangehou word vir hul nuttige produkte. Pluimvee is basies vee met vere ('n pluim is 'n veer). Dit sluit in: hoenders, kalkoene, eende, makoue, ganse en selfs volstruise. Hulle word aangehou vir die eiers wat hulle lê, vleis en selfs vir hulle vere.
Onder pluimvee word verstaan voëls wat ter wille van eier- of vleisproduksie aangehou word. Van al die voëlsoorte neem die hoender verreweg die vernaamste plek in die pluimveebedryf in, maar eende, ganse, makoue, kalkoene en kwartels speel ook 'n belangrike rol.
In die pluimveebedryf word daar onderskei tussen lêrasse vir die produksie van eiers vir die verbruikersektor en vleisrasse vir die produksie van braaikuikens en -hoenders, eende, ganse, ensovoorts.
Eiers is vanweë hulle hoë proteïeninhoud, vitamiene en minerale 'n belangrike voedingsproduk, asook pluimveevleis, wat gewoonlik 'n besonder gunstige vet/vleisverhouding het. Pluimveeboerdery is uiters gespesialiseer. Die werfhen met haar kuikens en weglêneste is vir altyd verby. In die plek daarvan het die sogenaamde batteryhen gekom.
Hulle produseer in hul duisende eiers, soms letterlik op 'n lopende vervoerband, in draadhokkies nie groter as 20 x 25 cm nie. Die braaihoender, 'n "uitvinding" van die 20de eeu, broei in 'n masjien uit, en word na 8 weke geslag sonder dat die dier ooit die sonlig gesien het. Die arbeid, soos die uithaal van eiers, kos en water gee, en die skoonmaak van die hokke, vereis vanweë meganisasie die minimum mannekrag. Die totaal onnatuurlike leefwyse van hierdie diere lok, veral in Europa, dikwels kritiek by diereliefhebbers uit.
Aan die ander kant bied die bedryf aan 'n proteïen-honger wêreld 'n goedkoop en higiëniese voedselbron. Veral in Europa, waar byna alle voedselpryse sterk gestyg het, het die prys van eiers en pluimvee in die laaste dekade feitlik konstant gebly. In Suid-Afrika word hierdie meganisasieproses ook in die laaste dekades toegepas, en mettertyd word groot voordeel hieruit geput. Die nuwe boerderymetodes en moderne aanpassing het egter daartoe gelei dat produksiekoste, en daarmee saam die verbruikersprys van pluimvee en eiers, in die laaste dekade skerp gestyg het.
In Europa word daar nog net in België en Nederland op redelike skaal met kalkoene geboer. In Suid-Afrika word daar heelwat moeite gedoen om hierdie bedryf te stimuleer. Lê-eende word amper nie meer in Europa aangehou nie omdat die vraag na eendeiers sterk gedaal het. In Suid-Afrika het die bedryf nog nooit werklik ingang gevind nie. Frankryk is die belangrikste produsent van ganse, terwyl tarentale daar ook gesogte pluimvee is.