'n Plurisentriese of polisentriese taal[1][2] word in die sinchroniese taalkunde beskou as 'n taal met meerdere standaardvariëteite. So strek die taalgebied van 'n plurisentriese taal dikwels, maar nie altyd nie, oor staatsgrense heen, of selfs oor meer as een vasteland soos in die geval van Engels, Frans of Portugees.
In die diachroniese taalkunde word 'n plurisentriese taal gedefinieer as 'n taal wat gedurende sy ontwikkeling deur meer as een taalkundige sentrum in gelyke mate beïnvloed is.