Praag

Hierdie artikel handel oor die Tsjeggiese hoofstad. Vir die webwerf, sien Praag (webwerf).

Praag
Praha

Kaart Wapen
Vlag
 Land Flag of the Czech Republic Tsjeggië
 Deelstaat Praag
 Koördinate 50°05′N 14°25′E / 50.083°N 14.417°O / 50.083; 14.417
 Stigting 9de eeu
 Oppervlakte:  
 - Totaal 496 vk km
 Hoogte bo seevlak 399 m
 Bevolking:  
 - Totaal (1 Januarie 2017) 1 280 508
 - Bevolkingsdigtheid 2 581,7/vk km
 - Metropolitaanse gebied 1 964 750
 Tydsone UTC +1
 Burgemeester Bohuslav Svoboda
  Amptelike Webwerf praha.eu

Praag (Tsjeggies: Praha [ˈpraɦa]) is die hoofstad en grootste stad van Tsjeggië met 'n bevolking van 1 280 508 (soos op 1 Januarie 2017). Praag vorm 'n selfstandige administratiewe gewes.

Die omgewing van Praag was reeds gedurende sy vroeë geskiedenis dig bevolk. In die 6de eeu het Slawiese stamme hulle in die gebied gevestig. Ná die bou van twee kastele deur die Přemyslide-dinastie in die 9de en 10de eeu het ook Joodse en Duitse koopmanne hulle in die stad begin vestig. Die jaar 870, toe die hoeksteen vir die Praagse kasteel gelê is, is tans die amptelike stigtingsdatum van Praag.

Die Karelsbrug of Karlův most het in die regeringstyd van Karel IV ontstaan wat - in personele unie - as koning van Boheme en keiser van die Heilige Romeinse Ryk geregeer het en Praag tot Rykshoofstad en keiserlike setel verhef het -'n status waaraan ongekende boubedrywighede verbonde was. Een van die standbeelde op die brug beeld Karel uit, as kontemplatiewe heerser wat blykbaar besorgd is oor die toekoms van sy ryk

Omtrent 1230 het Praag as die hoofstad van die Koninkryk Boheme en in die 14de eeu, as die keiserlike setel van die Heilige Romeinse Ryk, 'n belangrike politieke en kulturele sentrum in Europa geword. Gedurende die regentskap van die Heilige Romeinse keiser Karel IV en sy twee seuns, Wenceslaus IV en Sigismund, het Praag 'n ongekende bloeityd beleef waartydens Gotiese kuns en argitektuur in prag ontvou het. Toe hy in 1347 as koning van Boheme gekroon is, het Karel belowe om van Praag op kulturele gebied 'n mededinger van Parys en Rome te maak. Praag se status was in die volgende eeu nie beperk tot dié van keiserlike residensiestad nie - dit was een van Europa se vernaamste intellektuele en kunshoofstede.[1]

'n Verskeidenheid relikwieë, wat Karel aan die Sint Vituskatedraal geskenk het, het verseker dat Praag ook tot 'n godsdienstige sentrum en belangrike bestemming vir bedevaarte kon ontwikkel. In 1348 het Karel Praag se Nuwe Stad (Nové Město) gestig, met 'n drie meter lange stadsmuur wat in slegs twee jaar se boutyd voltooi is. Met 'n oppervlakte van vyftig hektaar en 'n bevolking van 40 000 is Praag destyds onder Europa se grootste stede gereken. Die Middeleeuse stadsgebied was só uitgestrek dat alle stedelike groei in die volgende vyf eeue binne sy stadsmuur kon plaasvind.[2]

Die "Goue Stad", soos Praag dikwels genoem word ('n verwysing na die torings van die Praagse kasteel wat keiser Karel IV in die 13de eeu laat verguld het), het groter oorlogsverwoesting gespaar gebly, en ook ná 1945 het stadsbeplanners moeite gedoen om die harmoniese stadsbeeld te bewaar. Praag se historiese stadskern, wat in 1992 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys is, is sorgvuldig gerestoureer en weerspieël Boheme en Tsjeggië se wisselvallige geskiedenis, met voorbeelde van Gotiese en barok-boukuns. Moderne geboue en grootskaalse behuisingsprojekte het buite die middestad ontstaan.

'n Groot verskeidenheid historiese monumente en bakens lok jaarliks miljoene toeriste na die Tsjeggiese hoofstad waar toerisme intussen tot die vernaamste ekonomiese sektor gegroei het.[3] Praag se bekoring lê in sy kontraste. So kontrasteer die Vltava of Moldau se kronkelende rivierloop, met talle brûe en steeds wisselende uitsigte, met die Hradčany (Hradschin), die magtige kasteelkompleks wat op 'n heuwel aan die rivier se linkeroewer ontstaan het. Nou straatjies met klein kroeë en restaurante in die historiese buurte kom uit by die ruim Wenceslausplein, moderne parke en groen ruimtes, en moderne woonstelblokke.

Eweneens in die historiese middestad geleë is groot en elegante 18de eeuse barokpaleise en kerkgeboue uit verskillende tydperke. Die heuwels in die omgewing bied 'n uitsig oor die historiese middestad waaraan die groot verskeidenheid kerktorings 'n eie, unieke perspektief gee wat aan Praag die bynaam "Stad van honderd kerktorings" besorg het. Koninklike en keiserlike boukuns getuig net soos die adelspaleise daarvan hoe sterk Praag se stedelike kultuur deur die keuse as keiserlike residensie en die gepaardgaande verstedeliking van die adelsklas beïnvloed is. Wene, wat Praag later as keiserlike residensie sou opvolg, toon in sy verstedelikingspatroon groot ooreenkoms met die Goue Stad.

  1. Barbara Drake Boehm, Jiři Fajt (reds.): Prague, the Crown of Bohemia, 1347–1437. New York: Metropolitan Museum of Art 2005
  2. Boehm/Fajt (2005), bl. 7
  3. www.planet-wissen.de: Prag. Besoek op 3 Julie 2017

Developed by StudentB