Protonering

Protonering is die toevoeging van 'n proton, oftewel die kern van 'n waterstofatoom (H+) tot 'n atoom, molekuul, of ioon, wat daardeur die gekonjugeerde suur vorm.[1] 'n Paar voorbeelde sluit in

  • die protonering van water deur swaelsuur:
    H2SO4 + H2O ⇌ H3O+ + HSO−4
  • die protonering van isobuteen om 'n karbokatioon te vorm:
    (CH3)2C=CH2 + HBF4 ⇌ (CH3)3C+ + BF−4
  • die protonering van ammoniak om die ioniese verbinding ammoniumchloried uit ammoniak en waterstofchloried te vorm:
    NH3(g) + HCl(g) → NH4Cl(s)

Protonering is 'n fundamentele chemiese reaksie en is 'n stap in baie stoigiometriese en katalitiese prosesse. Sommige ione en molekules kan meer as eenkeer geprotoneer word, en staan dus as "polibasies" bekend, soos die geval is by baie biologiese makromolekules. Protonering en deprotonering (verwydering van 'n proton) kom in die meeste suur-basis reaksies voor; dit is trouens die kern van meeste suur-basis-reaksie teorieë. 'n Brønsted–Lowry suur word gedefinieer as'n chemiese stof wat 'n ander stof protoneer. Wanneer 'n substraat geprotoneer word, verhoog sy massa en sy lading elk met een eenheid, wat dit 'n noodsaaklike stap maak in sekere analitiese prosedures soos byvoorbeeld elektrosproei massaspektrometrie. Protonering of deprotonering van 'n molekuul of ioon kan baie ander chemiese eienskappe verander, nie net die lading en massa nie, byvoorbeeld hydrofiele karakter, reduksiepotensiaal en optiese eienskappe kan almal verander.

  1. Zumdahl, S. S. (1986). Chemistry. Lexington, MA: Heath. ISBN 0-669-04529-2.

Developed by StudentB