Pterosauria

Pterosauria
Tydperk: laat-Triaslaat-Kryt, 210–66 m. jaar gelede
'n Versameling pterosouriërs.
Wetenskaplike klassifikasie e
Domein: Eukaryota
Koninkryk: Animalia
Filum: Chordata
Klade: Ornithodira
Klade: Pterosauromorpha
Orde: Pterosauria
Owen, 1842
Subgroepe
  • Eopterosauria
    • Preondactylus
    • †Eudimorphodontimorpha
      • Austriadactylus
      • †Eudimorphodontia
        • Peteinosaurus
        • †Eudimorphodontidae
  • Macronychoptera
    • †Dimorphodontia
    • †Novialoidea

Die pterosouriërs (van die Griekse pteron en sauros, "akkedis met vlerke") was vlieënde reptiele van die klade of orde Pterosauria. Hulle het van die Laat Trias tot die einde van die Krytperiode (220 tot 65 miljoen jaar gelede) bestaan.[1] Pterosouriërs is die eerste gewerweldes sover bekend wat kragtig kon vlieg. Hulle vlerke is gevorm deur ’n membraan van vel, spiere en ander weefsel wat gestrek het van die enkels tot die drasties verlengde vierde vinger.[2]

Daar was twee soorte pterosouriërs. Basale pterosouriërs (ook "Rhamphorhynchoidea" of "langstertpterosouriërs" genoem) was kleiner diere met volle tandstelle en gewoonlik lang sterte. Hulle breë vlerkmembrane het vermoedelik hulle agterpote ingesluit en verbind. Op die grond sou hulle 'n ongemaklike, uitgestrekte houding gehad het, maar die anatomie van hulle gewrigte en sterk kloue sou hulle doeltreffende klimmers gemaak het, en sommige kon selfs in bome gewoon het. Basale pterosouriërs het insekte en klein gewerweldes gevreet.

Latere pterosouriërs ("Pterodactyloidea") het baie groottes, vorme en lewenstyle ontwikkel. Pterodactyloidea het smaller vlerke en vrye agterledemate gehad, asook baie korter sterte, lang nekke en groot koppe. Op die grond het hulle goed en in 'n regop houding op al vier ledemate geloop. Hulle het op hulle agterpote gestaan en die vlerkvinger opgelig om op die "hand" met drie vingers te loop. Hulle het van die grond af opgevlieg en fossielspore wys minstens sommige spesies kon hardloop en swem.[3] Hulle kakebene het horingrige snawels gehad en sommige groepe het nie tande gehad nie. Van die groepe het uitspattige kamme aan hulle kop ontwikkel met seksuele dimorfisme.

Pterosouriërs het pelse van haaragtige filamente gehad bekend as pisnovesels. Dit het hulle lywe en deel van hulle vlerke bedek. Pisnovesels het in verskeie vorme gegroei, van enkelvoudige filamente tot vere. Dit kan homoloog wees aan die donsvere aan voëls en sommige nievlieënde dinosourusse. Dit dui daarop dat vroeë vere in die laaste gemeenskaplike voorsaat van pterosouriërs en dinosourusse ontwikkel het, waarskynlik vir isolasie.[4] Pterosouriërs sou gladde of donserige pelse gehad het wat nie soos voëlvere gelyk het nie. Hulle was warmbloedige (endotermiese), aktiewe diere.

Die asemhalingstelsel het gebruik gemaak van lugsakke, wat hulle bene baie uitgehol het. Pterosouriërs het 'n groot verskeidenheid volwasse groottes bereik, van die klein Anurognathidae tot die grootste bekende vlieënde wesens soos Quetzalcoatlus en Hatzegopteryx,[5][6][7] wat 'n vlerkspan van minstens nege meter gehad het. Die kombinasie van warmbloedigheid, 'n goeie voorraad suurstof en sterk spiere het pterosouriërs kragtige en vermoënde vlieërs gemaak.

Pterosouriërs word dikwels "vlieënde dinosourusse" genoem, hoewel dit nie korrek is nie. Die term "dinosourus" word beperk tot dié reptiele wat afstam van die laaste gemeenskaplike voorouer van die groepe Saurischia en Ornithischia (klade Dinosauria, wat voëls insluit). Daar is algemene konsensus dat dit die pterosouriërs uitsluit.[8] Pterosouriërs is egter wel nader verwant aan voëls en ander dinosourusse as aan krokodille en ander lewende reptiele, hoewel hulle nie voorsate van voëls is nie. Daar word ook algemeen na pterosouriërs as pterodaktiele verwys.[9] Tegnies kan "pterodaktiel" egter verwys na lede van die genus Pterodactylus, en in 'n breër sin na lede van die suborde Pterodactyloidea van die pterosouriërs.[10]

Pterosouriërs het 'n verskeidenheid lewenstyle gehad. Hulle is tradisioneel as visvreters beskou, maar daar word nou begryp hulle het ook landdiere, insekte, vrugte en selfs roofdiere van ander pterosouriërs gevreet. Hulle het eiers gelê; 'n paar fossiele daarvan is al ontdek.

  1. Wellnhofer, P. (1991). The Illustrated Encyclopedia of Pterosaurs. pp. 557–560. ISBN 0-86101-566-5.
  2. Elgin RA, Hone DWE, Frey E (2011). "The Extent of the Pterosaur Flight Membrane". Acta Palaeontolocia Polonica. 56 (1): 99–111. doi:10.4202/app.2009.0145.{{cite journal}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  3. "Pterosaur.net :: Terrestrial Locomotion". pterosaur.net. Besoek op 1 Februarie 2020.
  4. Geggel 2018-12-17T19:23:17Z, Laura (17 Desember 2018). "It's Official: Those Flying Reptiles Called Pterosaurs Were Covered in Fluffy Feathers". livescience.com (in Engels). Besoek op 1 Februarie 2020.
  5. Wang, X.; Kellner, A.W.A.; Zhou, Z.; Campos, D.A. (2008). "Discovery of a rare arboreal forest-dwelling flying reptile (Pterosauria, Pterodactyloidea) from China". Proceedings of the National Academy of Sciences. 105 (6): 1983–87. Bibcode:2008PNAS..105.1983W. doi:10.1073/pnas.0707728105. PMC 2538868. PMID 18268340.
  6. Lawson DA (Maart 1975). "Pterosaur from the Latest Cretaceous of West Texas: Discovery of the Largest Flying Creature". Science. 187 (4180): 947–948. Bibcode:1975Sci...187..947L. doi:10.1126/science.187.4180.947. PMID 17745279. S2CID 46396417.
  7. Buffetaut E, Grigorescu D, Csiki Z (April 2002). "A new giant pterosaur with a robust skull from the latest cretaceous of Romania" (PDF). Naturwissenschaften. 89 (4): 180–84. Bibcode:2002NW.....89..180B. doi:10.1007/s00114-002-0307-1. PMID 12061403. S2CID 15423666.
  8. Benton, Michael J. (2004). "Origin and relationships of Dinosauria". In Weishampel, David B.; Dodson, Peter; Osmólska, Halszka (reds.). The Dinosauria (2nd uitg.). Berkeley: University of California Press. pp. 7–19. ISBN 0-520-24209-2.
  9. Naish, Darren. "Pterosaurs: Myths and Misconceptions". Pterosaur.net. Besoek op 18 Junie 2011.
  10. Alexander, David E. & Vogel, Steven (2004). Nature's Flyers: Birds, Insects, and the Biomechanics of Flight. JHU Press. p. 191. ISBN 978-0-8018-8059-9.

Developed by StudentB