Radio-aktiewe verval

Vorme van radioaktiewe verval.

Radioaktiewe verval is die proses waarmee 'n onstabiele atoomkern sy energie verloor deur straling in die vorm van partikels of elektromagnetiese golwe. Hierdie verval of energieverlies veroorsaak dat 'n atoom van een soort, die moedernuklied, omgeskakel word na 'n atoom van 'n ander soort, die dogternuklied. 'n Koolstof-14 atoom gee byvoorbeeld straling af om 'n stikstof-14 atoom te vorm. Op atoomvlak is hierdie 'n lukrake proses in die opsig dat dit onmoontlik is om te voorspel wanneer 'n spesifieke atoom sal verval, maar gegewe 'n groot aantal soortgelyke atome, is die gemiddelde vervaltempo wel voorspelbaar.

Die SI-eenheid van radioaktiewe verval is die becquerel (Bq). Een Bq word gedefinieer as een transformasie per sekonde. Aangesien 'n monster met 'n redelike hoeveelheid radioaktiewe materiaal baie atome bevat, is 'n Bq 'n baie klein mate van aktiwiteit en word veelvoude soos TBq (terabecquerel) of GBq (gigabecquerel) dikwels gebruik. 'n Ander eenheid van radioaktiwiteit is die curie, Ci, wat oorspronklik gedefinieer is as die aktiwiteit van een gram suiwer radium, isotoop Ra-226. Tans is dit gelykstaande aan die aktiwiteit van enige radionuklied wat teen 'n tempo van 3.7 × 1010 Bq verval. Die gebruik van die Ci word tans deur die SI ontmoedig.


Developed by StudentB