Die relatiwiteitsteorie omvat twee teorieë deur Albert Einstein: spesiale relatiwiteit en algemene relatiwiteit.[1]
Die belangrikste begrippe van die relatiwiteitsteorieë is:
Die begrip relatiwiteit word in die fisika veral gebruik om na enige bewegende stelsel of raamwerk met betrekking tot 'n ander bewegende stelsel te verwys. Volgens die relatiwiteitsteorie het geen liggaam 'n absolute waarde van rus of beweging nie, aangesien dit altyd relatief tot 'n ander liggaam gesien word.
Hoewel dit byvoorbeeld vir iemand lyk of 'n boom stilstaan, moet die waarnemer in gedagte hou dat sowel hy as die boom beweeg (die aarde beweeg tog met ʼn snelheid van 1800 km/h in sy baan) en dat hy relatief tot die boom bloot met dieselfde snelheid beweeg.
Galileo Galilei, 'n vroeëre natuurkundige, was in sy tyd reeds bewus van relatiwiteit en het eenvoudige wiskundige relasies geformuleer aan die hand waarvan hy 'n aantal stellings gemaak het. Albert Einstein (1879 -1955) het uiteindelik sommige van Galilei se stellings weerlê. Volgens Einstein kan 'n stelsel met swaartekrag gesien word as 'n stelsel sonder swaartekrag wat aan ʼn versnelling onderhewig is.
Aan die hand daarvan kon hy die beweging van hemelliggame uit 'n ander oogpunt as byvoorbeeld Newton beskou en het hy ook die grondslag vir die moderne kosmologie gelê. Die spesiale relatiwiteitsteorie het betrekking op elektromagnetisme. Einstein se eerste publikasie hieroor heet. Die elektrodinamika van bewegende liggame. Op die keper beskou het Einstein elektromagnetisme egter bloot gebruik om lig as 'n elektromagnetiese verskynsel te beskryf en het sy teorieë verder voortgebou op veral die snelheid van lig.