| |||||
Volkslied: 中華民國國歌 (Chinees) Zhōnghuá Míngúo gúogē (Mandaryns) Tiong-hôa Bîn-kok Kok-koa (Taiwannees) Chûng-fà Mìn-koet Koet-kô (Hakka) (Afrikaans: "Nasionale volkslied van die Republiek China") Vlagvolkslied: 中華民國國旗歌 (Chinees) Zhōnghuá Míngúo Gúoqígē (Mandaryns) Tiong-hôa Bîn-kok Kok-kî-koa (Taiwannees) Chûng-fà Mìn-koet Koet-khì-kô (Hakka) (Afrikaans: "Nasionale vlaglied van die Republiek China") | |||||
Hoofstad | Taipei[1][2] | ||||
Grootste stad | Nieu-Taipei | ||||
Amptelike tale | Chinees-Mandaryns (de facto),[3] Formosaans,[4] Taiwannees[5] en Hakka[6] | ||||
Regering | Unitêre semi-presidensiële grondwetlike republiek Lai Ching-te Hsiao Bi-khim Cho Jung-tai Cheng Li-chun | ||||
Onafhanklikheid Vorming
• Wuchang-opstand • Xinhai-rewolusie • Stigting van die Republiek • Huidige grondwet • Verskuiwing na die eiland Taiwan |
10 Oktober 1911 10 November 1911 1 Januarie 1912 25 Desember 1947 7 Desember 1949 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
35 980[7] km2 (138ste) 13 892 myl2 10,34 | ||||
Bevolking - 2024-skatting - 2010-sensus - Digtheid |
23 595 274[7] (58ste) 23 123 866[8] 642,7 / km2 (17de) 1 698,5 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
MOI (2021) | 0,926[10] (19de) – baie hoog | ||||
Gini (2017) | 34,1[11] – medium | ||||
Geldeenheid | Dollar (NT$) (TWD )
| ||||
Tydsone - Somertyd |
NST (UTC+8) nie toegepas nie (UTC+8) | ||||
Internet-TLD | .tw, .台灣, .台湾[12] | ||||
Skakelkode | +886 |
Die Republiek China (Chinees: 中華民國, pinyin: Zhōnghuá Mínguó, [ʈ͡ʂʊ́ŋxu̯ɑ̌ mǐnku̯ɔ̌]; wat soms ook Republiek China op Taiwan, Nasionaal-China of dikwels net Taiwan genoem word) is een van twee Chinese state wat daarop aanspraak maak dat hulle die regmatige verteenwoordiger van China is (die ander een is die Volksrepubliek China). Naas die hoofeiland Taiwan sluit die Republiek China se de facto-staatsgebied 'n reeks kleiner eilande soos Penghu, Kinmen, Matsu, Dongsha, Zhongsha en Nansha in.
Die Republiek China het sy oorsprong in die Nasionaal-Chinese Republiek wat in 1912 uitgeroep is – as die eerste Asiatiese land met 'n demokratiese regeringstelsel.[13] Tot 1949 het hierdie republiek die hele China ingesluit, vanaf 1945 ook die eiland Taiwan wat tydelik deur Japan beheer is. Nadat die Nasionaal-Chinese regering onder leiding van die Guomindang-party in die Chinese burgeroorlog tussen 1927 en 1949 'n nederlaag teen die Kommunistiese Party van China gely het, het die Guomindang onder leiding van Chiang Kai-shek op 10 Desember na die eiland Taiwan uitgewyk, nadat die Kommuniste op die vasteland onder Mao reeds op 1 Oktober in Beijing die Volksrepubliek China geproklameer het. Na ramings het tussen 1,8 en twee miljoen Nasionaal-Chinese – Guomindang-partylede, soldate, sakelui, grondbesitters en kleinboere, monnike, kunstenaars, intellektueles, maar ook krimineles – hulle binne enkele maande op Taiwan gevestig.[14] Hulle het China se destydse goudreserwes en baie kunsskatte na Taiwan geneem. Ook gedurende die 1950's en 1960's het tienduisende vastelandse Chinese hulle op Taiwan gevestig, meestal vanuit Hongkong en Burma (tans Mianmar).
Die uitbreek van die Korea-oorlog in Junie 1950 het verseker dat Taiwan van groot strategiese belang vir die Verenigde State geword het. Die Amerikaanse president Truman het oorlogskepe na die Seestraat van Taiwan gestuur om die eiland teen 'n moontlike kommunistiese inval te beskerm, terwyl die Nasionaal-Chinese regering ook finansieel deur Washington gesteun is.
Die Republiek China het in die tweede helfte van die 20ste eeu ongekende vooruitgang op politieke en ekonomiese gebied beleef. Vinnige ekonomiese groei en tegnologiese vooruitgang het gepaard gegaan met politieke liberalisering. Die outoritêre polisiestaat het tot 'n veelparty-demokrasie met 'n verkose president as staatshoof en vrye media, gelykheid tussen die geslagte, en respek en agting vir menseregte ontwikkel wat onder die mees gevorderde nywerheidslande gereken word.
Ondanks die groot skade, wat die eiland Taiwan gedurende die Tweede Wêreldoorlog as gevolg van lugaanvalle gely het, en ondanks die moeilike situasie ná die verlore Chinese burgeroorlog op die vasteland, toe 'n nuwe regering in Taipei gevestig moes word, is sy ekonomiese geskiedenis dié van 'n onderontwikkelde land wat sy ekonomie binne enkele dekades herstruktureer en tot een van die welvarendste ter wêreld ontwikkel het. Nog in 1900 was die eiland Taiwan se bevolking slegs twee miljoen, en in 1958 is sowat sestig persent van die land se uitvoerwaarde nog met suiker en rys verdien. Hierdie aandeel het reeds in 1972 tot slegs drie persent gedaal.[15] Die bruto nasionale produk het van slegs VS$200 in die tydperk kort ná die Tweede Wêreldoorlog tot meer as VS$13 000 in 1999 gestyg.[16] Vandag is die land met sy 23,5 miljoen inwoners een van die vernaamste produsente van inligtingstegnologie en ander elektronika.
As eerste demokratiese en vrye Chinese samelewing het die eilandrepubliek nie net die kultuur en tradisies van China bewaar nie, maar ook sy eie nasionale kulturele identiteit ontwikkel waarin Chinese, Japannese, Westerse en inheemse invloede op 'n wonderlike manier versmelt. Taiwan bied eersterangse Chinese kookkuns, sy bevolking vier tradisionele Chinese en inheemse feeste en bewaar 'n ryk erfenis van godsdienstige boukuns met sy groot verskeidenheid tempels.[17]