Richard I (Leeuehart) | |
---|---|
Koning van Engeland | |
Huis | Angevyne (Plantagenêt) |
Regeer | 6 Julie 1189 – 6 April 1199 |
Voorganger | Hendrik II |
Opvolger | Jan Sonder Land |
Eggenote | Berengaria van Navarra |
Gebore | 8 September 1157 |
Oorlede | 6 April 1199 |
Vader | Hendrik II |
Moeder | Eleonore van Akwitanië |
Richard I Leeuehart (Frans: Richard Cœur de Lion, Engels: Lionheart; 8 September 1157 – 6 April 1199) was van 1189 tot met sy dood koning van Engeland. Hy was die tweede seun van Hendrik II en Eleonore van Akwitanië, een van die kunssinnigste persoonlikhede in Middeleeuse Europa. So het Richard hom ook as digter en troubadour bekwaam.[1]
Richard I se lewe en die keuses, wat hy gemaak het, weerspieël die feit dat hy meer was as net die koning van Engeland. Groot dele van sy besittings was op die Europese vasteland, in die weste van Frankryk, geleë, terwyl sy politieke belange nog verder gestrek het. Gedurende sy regentskap van tien jaar het hy slegs sowat ses maande lank in Engeland gebly.
Ook was hy, net soos sy Normandiese voorgangers, Engels nouliks magtig. Sy Engelse onderdane het nogtans sy prestasies as kruisridder en militêre leier in die Heilige Land tydens die Derde Kruistog gewaardeer en bewonder. Engeland was vir die duur van sy afwesigheid immers in goeie hande en het tydens sy regentskap 'n bloeitydperk beleef.